Jéan Fouché (links) is onlangs as die Worcester Lions-klub se nuwe president ingehuldig. By hom staan die uitgaande president, Petrus Carstens.


Die Worcester Lions-klub het vroeër die maand sy nuwe president, Jéan Fouché, ingehuldig. Standard het die nuwe president ’n paar vrae gevra:

1. Hoe voel dit om die nuwe president van die Worcester Lions-klub te wees?

“Dit is nogal oorweldigend, want ek is die 65ste president en die klub het al verskeie legendariese en vooraanstaande sakelui opgelewer. Dit is egter ’n groot eer en voorreg om deel van die klub se roemryke geskiedenis te wees.”

2. Het jy enige spesifieke planne of projekte wat jy in die volgende jaar wil instel of begin?

“Die afgelope twee jaar was finansieel baie uitdagend vir alle diensorganisasies. My doel vir die jaar is om genoegsame geld in te samel sodat ons weer al ons instansies kan ondersteun wat ons in die verlede ondersteun het. Ons fietstoer in September en die gholfdag in November is ons twee groot geldinsamelingsprojekte.”

3. Hoe lank is jy nou al ’n lid van die Lions-klub en wat het jou destyds laat besluit om aan te sluit?

“Ek is al sedert 2016 ’n lid. Ek wou nog altyd lid wees van ’n organisasie wat ’n verskil in die gemeenskap maak. Ek is al sedert my kinderdae bewus van die Lions.”

4. Watter soort werk doen jy en vir hoe lank doen jy dit al?

“Ek is ’n prokureur by De Vries, De Wet & Krouwkam. Ek het in 2011 as ’n kandidaatprokureur by hulle begin en ek geniet dit om steeds deel van hierdie ongelooflike firma te wees.”

5. Het jy dalk ’n boodskap vir die gemeenskap van Worcester namens die Lions?

“Daar is tans baie uitdagings in die gemeenskap, maar ons is bevoorreg om in hierdie land – en veral in Worcester – te woon. Ons moet net almal moed hou, goed saamwerk en – die belangrikste van alles – mekaar respekteer. Ons kan Worcester dan na nuwe hoogtes neem.”

Buiten om ’n prokureur en die nuwe Lionsklub-president te wees, geniet hierdie 34-jarige ook graag trail running en om gholf te speel.

“Ek is ook ’n groot liefhebber van rugby en ’n F1-entoesias. Ek is ook baie lief daarvoor om in ons land rond te reis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article