’n Nuwe behuisingsprojek vir Touwsrivier is aan die kom.
Die Breedevallei-munisipaliteit het vroeër vandeesmaand in sy begroting melding gemaak van R14 miljoen wat gebruik sal word vir die opgradering van die rioolnetwerk in Touwsrivier. Die rioolnetwerk is ter voorbereiding en in afwagting van ’n beplande behuisingsontwikkeling, het die BVM verlede week aan Standard verduidelik.
Standard het vandeesweek meer oor die beplande behuisingsprojek by die munisipaliteit vasgestel.
Volgens Chad Malgas, ’n woordvoerder vir die BVM, is die projek geoormerk vir grond in Schoemansville en is ongeveer 22 ha groot.
“Die projek word geoormerk as ’n gemengde ontwikkeling, met ander woorde, eenhede wat begunstigdes in die lae asook die middel-inkomstegroeperings teiken. Die plan is om 900 addisionele wooneenhede te skep,” verduidelik Malgas.
Die munisipaliteit kan egter in hierdie stadium nog nie sê wanneer die beplande behuisingsprojek sal begin nie.
“Ons moet aan verskeie voorvereistes voldoen voordat die projek kan begin.”
Malgas het die volgende vereistes gelys: . Die kapasiteit van die huidige grootmaat-dienste-infrastruktuur moet opgradeer word, soos watervoorsiening en rioolverwerking, om die bykomende behuising-lading doeltreffend te kan diens. Finansiering vir hierdie kritieke opgraderings is in die jongste munisipale begroting van 2023-’24 opgeneem. . Omgewingsimpakstudies moet voltooi word om die wesenlikheid van die ligging – spesifiek die geskiktheid vir die beoogde ontwikkeling – te bepaal.. Die projek moet dan vir implementering deur die provinsiale departement van infrastruktuur goedgekeur word. Hierdie goedkeuring ontsluit dan geld wat spesifiek aan die bou van topstrukture (huise) toegeken is.
Verder verduidelik hy: “Dit is egter belangrik om daarop te let dat verskeie behuisingsprojekte in werking en in beplanning meeding vir finansiering van die provinsiale departement, soos hierbo vermeld. In terme van die BVM is inwoners bewus dat finansiering hoofsaaklik aan die Transhex-projek toegeken word. Die munisipaliteit besef egter die noodsaaklikheid om te onderhandel sodat goedgekeurde behuisingsprojekte, ingevolge die behuisingsbeplanning, so gou as moontlik aandag geniet nieteenstaande beperkte finansiering, aangesien dit die lading op die behuisingswaglys aansienlik kan verlig.
“Die munisipaliteit gee dus voorkeur aan onderhandelings met die provinsiale departement van infrastruktuur om te bepaal of implementeringstydslyne van ander goedgekeurde projekte inpas met die finansiële wesenlikheid daarvan en of die behuisingsprojek vervroeg kan word.
“Slegs na afloop van die suksesvolle opgradering van grootmaat-dienste-infrastruktuur en goedkeuring van finansiering deur die provinsiale departement sal die vestiging van gedienste erwe en bou van topstrukture kan geskied.”
Afhangend van goedkeuring sal die projek ook verskeie werksgeleenthede aan die inwoners van Touwsrivier bied.
“Soos met enige projek van hierdie aard, gaan werksgeleenthede vanselfsprekend daaruit vloei. Dit is egter in hierdie stadium nie moontlik om bevestiging te gee oor die soort asook die hoeveelheid werksgeleenthede wat geskep gaan word nie. Gemeenskappe sal egter vroegtydig in kennis gestel word wanneer werksgeleenthede uit die projek vloei.”
Die munisipaliteit kan in hierdie stadium egter nog nie sê wat die koste vir die projek sal beloop nie voordat die projek nie vooraf aan alle vereistes voldoen nie.



