Die 38 erwe wat tans deur die munisipaliteit van dienste voorsien word, is verlede Woensdag huiwerig verwelkom.Foto:

Credit: SYSTEM

Inwoners het verlede Woensdag huiwerig die aankondiging van die munisipaliteit verwelkom oor 38 nuwe erwe in Johnsonspark wat tans gediens word.

Die munisipaliteit het die nuus Woensdagmiddag in ’n Facebook-inskrywing bekend gemaak en binne enkele ure was daar meer vrae as antwoorde.

Menige inwoner het sy mening oor die projek gelug en gevra dat die 38 erwe aan eerstekeer-kopers verkoop moet word.

JP Myburg, kommunikasiebeampte van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), sê die rol van BVM in hierdie projek is om siviele ingenieurswese (water, riool, paaie, stormwater en erfverbindings) en elektriese infrastruktuur aan die 38 nuwe erwe te verskaf.

Hy sê die grond staan al ’n aantal jare leeg en sal nou benut word.

“Ons is opgewonde oor hierdie projek en verwag dat die projek teen Augustus vanjaar voltooi sal wees,” sê Myburg.

Hy sê die munisipaliteit voel die erwe kan in ’n behoefte in die gemeenskap voorsien. Hy sê die 38 erwe is nie ’n behuisingsprojek nie, maar net verdere ontwikkeling van die omgewing.

Een leser se kommentaar onder ’n inskrywing van die BVM oor die erwe lui as volg: “Hoop die erwe word beskikbaar gestel aan eerste- huiseienaars.

“Die opveil van die 18 erwe in Meiringspark was slegs vir ’n paar mense toeganklik, wat die maand ná die veiling weer te koop aangebied is vir R100 000 meer. Asseblief, kyk na diegene wat regtig ’n huis wil bekom.”

Die BVM het dit duidelik gemaak die erwe is nie te koop nie.

“Neem kennis dat hierdie munisipale erwe nie tans te koop is nie.

“Die erwe word tans gediens en sal op ’n latere stadium aan die publiek te koop aangebied kan word,” sê die munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article