Lede van die nuutgestigte Touwsrivier Black Business Forum is van links Steven Oliphant, Tommy McThomas, Randall Noble, Anthea Arries, Russell Johnson, Alicia Kondlo-Roman, Eusewes Prins, Mervin Kock en Kgomotos John Tshabatau.


’n Nuwe sakeforum is onlangs in Touwsrivier gestig om eienaars van klein sakeondernemings te help.

Die Touwsrivier Black Business Forum is amptelik op 13 Januarie gestig.

“Ek en ’n paar ander mense in die dorp het eendag gesels oor sakeondernemings se omstandighede in die dorp. Ons het toe besluit om hierdie forum te stig om as mondstuk vir hierdie sake-eienaars te dien en hulle te help om aan al die verskeie vereistes te voldoen,” verduidelik Randall Noble, die voorsitter.

Die ondervoorsitter, Kgomotos Tshabatau, verduidelik een van hul hoofdoelwitte is om klein ondernemings in Touwsrivier gereed te kry vir groot projekte waaraan hulle kan deelneem, en sodoende werk te skep.

Volgens Noble het die lede van die forum hulle ’n tydperk van ses maande toegelaat om sakeondernemings te help.

“Ons het vir onsself ’n doelwit geskep dat ons binne ses maande al die klein ondernemings in die dorp sal help om al hul papierwerk agtermekaar te kry sodat, indien groot projekte in en om die dorp sou plaasvind, hulle aan al die vereistes sal voldoen om aan sulke projekte te werk.”

Verder sê Noble enige sakeonderneming kan by die forum aansluit – selfs spaza-winkeleienaars.

Die forum beplan om Dinsdag 8 Februarie ’n werksessie te hou waar die eienaars van sakeondernemings gehelp en ingelig sal word oor verskillende aspekte van hul ondernemings.

“Hierdie werksessie gaan in samewerking met die departement van openbare werke aangebied word.

“Dié departement ondersteun ons forum en die doelwitte wat ons hierdeur wil bereik.”

Verskeie organisasies soos Seda, Sars en die departement van handel, nywerheid en mededinging gaan op dié dag ook daar wees.

“Verskeie banke sal ook teenwoordig wees om mense te help om rekeninge vir hul ondernemings te open.

“Mense sal ook kan leer hoe om aan BEE-vereistes te voldoen,” voeg Tshabatau by.

Noble wil dit ook duidelik maak dat die forum geen politieke verbintenisse het nie.

“Ons het wel ’n alliansie met die Saldanha-sakeforum. So, as ons enige inligting of hulp nodig het, sal ons na hulle uitreik om die mense in Touwsrivier sodoende beter te kan help.” . Mense wat belangstel om by die forum aan te sluit of om meer inligting te kry, kan ’n versoek per e-pos stuur na touwsbbf9@gmail.com of Kgomotso Tshabatau by 076 081 3662 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article