Die personeel en eregaste by die amptelike opening van die Langeberg-brandweerstasie in Robertson. Foto:


Die nuwe Langeberg-brandweerstasie in Kerkstraat, Robertson, is op 7 Februarie amptelik geopen.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, die LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell, ’n afvaardiging gelei deur Schalk van Eeden, die uitvoerende burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit, en ander regeringsverteen­woordi­gers was almal daar.

Die Langeberg-brandweer­stasie, gebou teen ’n koste van R17 miljoen, is ’n aansienlike belegging in die veiligheid en sekerheid van die Langeberg-gemeenskap.

Bouwerk aan die brandweerstasie, op ’n oop veld geleë langs die Rampbestuurkantoor, het in April 2023 begin. Hierdie ligging bied maklike toegang tot die R60 wat met al die dorpe en toevoerroetes verbind.

Die brandweerstasie is gebou om bedrywighede op ’n 24-uur- grondslag te huisves.

Die nuwe dubbelverdiepinggebou bestaan uit ’n ontvangs-voorportaal, ’n wagkamer, kantore, ’n raadsaal, ’n lesinglokaal, ablusiegeriewe, kombuisgeriewe, voldoende stoorkamers, ’n gimnasium en slaapkwartiere.

Die gebou kan ses brandweerwaens huisves, asook ’n waskamer.

Die gebou kan as ’n gesamentlike beheersentrum ingespan word indien ’n ramp of groot voorval in die Langeberg-omgewing plaasvind.

Winde het in sy hoofrede die belangrikheid uitgespreek om reaksie op ’n krisis in die provinsie te versterk.

“Ek het gekyk na nuusopskrifte oor hoe ander lande ’n krisis hanteer en dit is duidelik dat ons as ’n provinsie uitstekende vermoë het om voor te berei en op ’n krisis te reageer. Ons sien dikwels hoe munisipaliteite uitreik om mekaar te ondersteun, hetsy om water te voorsien of bykomende brandweerdienste te verskaf, en ek is seker hierdie brandweerstasie sal ook sulke samewerking moontlik maak.”

Voor die bou van die Langeberg-brandweerstasie was die satellietbrandweerstasie in Ashton gesetel.

Die Langeberg-brandbestrydingseenheid se behoeftes om al vyf dorpe en naburige plase te bedien, kon nie voorsien word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article