: Verskeie boumetodes, soos staalrame betonblokke en glas, word gebruik om moderne strukture op te rig. Foto: www.marvelbuilding.com


Verskeie nuwe metodes is deesdae aan die orde van die dag as dit by bouwerk kom.


Houtraamhuise

S Voordele Hout bied voortreflike isolering. Boonop word buitemure en plat plafonne met grootmaat-isoleermateriaal gevul sodat die huis koel is in die somer en warm in die winter. Houtraamhuise kan ook met panele van veselsement bedek word wat minder instandhouding verg as gewone pleister.

’n Bousel van hout kan ook die geraasvlakke aansienlik laat daal – selfs meer as dubbele baksteenmure. Die materiaalkoste van ’n houthuis is oor die algemeen ’n bietjie hoër as dié van ’n gewone huis, maar dis ’n heeltemal ander storie as dit by die langtermynvoordele kom om in een te woon en dit in stand te hou.
S Gebruike

’n Houthuis is perfek vir problematiese plekke waar dit baie duur sal wees om ’n baksteenhuis te bou. Dit kan veral maklik aangepas word op ’n bouterrein wat teen ’n helling lê.

Eco-Beam-huise
S Voordele

’n Eco-Beam-sandsakhuis kan vinnig gebou word omdat geen bakstene nodig is nie. As die balke en sakke eers afgelewer is, kan die huis letterlik binne dae gebou word.

Ontwerpelemente soos geboë mure of interessante venstervorms wat peperduur is in baksteenhuise, kan moeiteloos en sonder enige ekstra koste gebou word.

Die arbeidskoste is laer omdat die proses om die sakke met sand te vul en dit dan op te stapel, deur half- of ongeskoolde arbeiders voltooi kan word. Baie van die sand wat nodig is om die huis te bou, kan ook op die bouterrein gekry word.
S Gebruike

Omdat die gewig en ontwerp van die boumateriaal die vervoer daarvan aansienlik vergemaklik, is die Eco-Beam-boumetode ideaal vir afgeleë gebiede. En as die bouterrein ’n magdom sanderige grond het, des te beter.


Staalraamhuise

S Voordele

Staalraamhuise word volgens presiese spesifikasies ontwerp en gebou deur van rekenaarontwerp en spesiale tegnologie gebruik te maak. Omdat dit op bestelling gemaak word, kan amper enige argitekelement of boustyl geïnkorporeer word. En sodra die huis by die bouterrein afgelewer word, is dit ’n kwessie van ure voordat die mure opgerig is.

Probleme wat dikwels in baksteenhuise opduik, word ook die hoof gebied. Die mure sal byvoorbeeld perfek regop, haaks en op presies die regte plek wees volgens die rekenaarplanne.

Dit maak dit makliker en veel akkurater om byvoorbeeld teëls te lê en die binnenshuise skrynwerk af te handel, en kan jou heelwat geld aan arbeid bespaar.
S Gebruike

Bouterreine het dikwels inherente probleme soos uiterste hellings. Staalraamstrukture sal in sulke gevalle vir sterker, meer duursame bouwerk sorg.
Geïsoleerde betonblokke

S Voordele

Dié boumetode is duursaam, die materiaal makliker hanteerbaar as gewone betonblokke en die staalversterking verskaf bykomende stabiliteit.

Net soos die eerste twee metodes, is die grootste voordeel die spoed en gemak waarmee die bouwerk afgehandel kan word – mure kan byvoorbeeld tot vyf keer vinniger gebou word as met bakstene.

Na gelang van die dikte van die mure en die skaal van die bouwerk, kan die materiaalkoste wissel tussen 12% duurder en 20% goedkoper as bakstene. Maar enige bykomende materiaalkostes sal binne ’n paar jaar vir hulself betaal danksy die voortreflike isolering:

Die uitgawes om jou huis warmer of koeler te maak sal 50-80% goedkoper wees.

Geïsoleerde betonblokke sal ook geraasvlakke dramaties laat daal.
S Gebruike

Dié boumetode is ideaal in gebiede waar dit baie reën of buitengewoon klam is.

Dis ook ’n goeie keuse vir bouterreine wat logistieke nagmerries vir verskaffers oplewer en waar muurgewig, temperatuuruiterstes, onstabiele grond of geskoolde arbeid ’n probleem is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article