’n Noodplan is in werking gestel om die impak wat die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne op landbou in die Wes-Kaap kan hê, te probeer versag.

Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het Maandag met Agri Wes-Kaap, Vinpro, Wines of South Africa (Wosa), die Varsprodusente-uitvoerdersforum, GraanSA, die Suid-Afrikaanse Tafeldruiwebedryf, Sitruskwekersvereniging en die Wolkwekersvereniging vergader.

“Ek het dit gedoen omdat ek bekommerd is oor die impak van die Russiese inval in die Oekraïne op die Wes-Kaap se landbouhandel.

“Die Russiese en Oekraïne-markte dra by tot Suid-Afrika se buitelandse inkomste wat uit die uitvoer van landbouprodukte verkry word, met ’n aansienlike deel van hierdie produkte wat uit die Wes-Kaap kom,” sê Meyer.

Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Rusland en die Oekraïne saam is in 2020 op R4,1 miljard gewaardeer.

Tuinbouprodukte soos lemoene, pere, appels, mandaryne, suurlemoene, vars druiwe en wynhouers wat twee liter of minder hou, het gesamentlik ’n aandeel van R3,4 miljard bygedra.

Sowat 88% van hierdie waarde is toe te skryf aan die Wes-Kaap, ’n dominante rolspeler in die tuinbousektor.

Suid-Afrika se koring- en meslin-invoer van Rusland en Oekraïne is in 2020 op R2,3 miljard gewaardeer, en die Wes-Kaap het sowat 28% van dié invoer geneem.

Verder toon statistieke dat sowat 70% tot 80% van alle koringmeel wat geproduseer word vir broodbak gebruik word, wat ’n geraamde jaarlikse verbruikersbesteding van R6,7 miljard in 2020 lok.

In die Wes-Kaap is 76% van alle brood wat verbruik word witbrood. Daarom sal ’n beperkte aanbod van koring in globale markte die plaaslike markte beïnvloed, en die styging in die prys van brood sal een van die tekens wees wat ’n beperkte aanbod van koring aandui.

Dit sal ’n direkte impak op voedselsekerheid en armes hê.

Ontwrigting in skeepsvaart, produksie en bekommernisse oor sekuriteit het reeds ’n 50%-styging in die prys van koring tot gevolg gehad.

Rusland voer 14% van die wêreld se kunsmis uit. Die onvermoë om uit te voer en die styging in die prys van olie sal grootliks ’n impak op kunsmis-, brandstof- en landbouchemiese pryse hê.

Pryse van primêre landbou-insette in Suid-Afrika het reeds met meer as 100% gestyg vergeleke met Januarie 2021.

Kunsmis (35% van produksiekoste), brandstof (12%) en landbouchemikalieë (8%) is alles duurder as in 2021.

Belanghebbendes in die landboubedryf sê die belangrikste uitdagings wat die sektor tans in die gesig staar, is logistiek, finansiële verliese en die herleiding van vrugte na ander markte.

Groot skeepsrederye aanvaar geen besprekings of kommoditeite nie.

Hawens in Rotterdam, Antwerpen en Bremerhaven is tans uiters oorlaai weens die tydrowende skandering van houers vir springstof.

Die implikasies is dat vrugte op ’n 23-dag reis van Kaapstad na St Petersburg met verskeie herleidings gepaard kan gaan en tot 93 dae kan neem om die eindbestemming te bereik.

Dit lei daartoe dat die vrugte oneetbaar is.

Dit is ook nie maklik om vrugte na ander markte te herlei nie, aangesien ander markte verskillende spesifikasies en vereistes het.

Terselfdertyd herlei al die Suidelike Halfrond-lande (SA se mededingers) hul vrugte na dieselfde markte.

Dit veroorsaak ’n ooraanbod en dus laer pryse / inkomste vir SA uitvoerders en produsente.

Die Russiese inval in die Oekraïne het die potensiaal om aansienlike ontwrigting aan voorsieningskettings te veroorsaak en sal aansienlike implikasies hê vir produkte se bergingskoste en die gehalte van produkte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article