’n ongeluk tussen ’n trok en motorfiets het daartoe gelei dat die berg op Du Toitskloofpas aan die brand geslaan het. Foto: Ismail’s Towing.


Du Toitskloofpas is Dinsdagmiddag vir verkeer gesluit weens ’n noodlottige botsing tussen ’n motorfietsryer en ’n vragmotor, wat veroorsaak het dat die berg aan die brand slaan.

Die botsing het om 11:30 naby die Protea-plaas in die pas gebeur.

Volgens inligting wat van ’n bron op die toneel ontvang is, het twee motorfietse agter mekaar in die pas gery toe die agterste beheer verloor en reg van voor teen ’n vragmotor gebots het.

Die motorfietsryer is daar in die pas dood.

Die Du Toitskloofpas val in die Paarl-polisie se polisiëringsgebied, en dus het hulle ’n ondersoek ná die dood van die 26-jarige motorfietsryer geopen.

“Die Paarl-polisie het ’n ondersoek geopen ná die dood van ’n motorfietsryer, wat Maandag (1 November) omstreeks 11:30 in die Du Toitskloofpas gesterf het.

“Die motorfietsryer, die 26-jarige Tauriq Hercules, het saam met sy neef (elk op hul eie motorfiets) van Athlone na Worcester gery toe hy in ’n draai beheer oor sy motorfiets verloor het. Die motorfiets het reg van voor teen ’n vragmotor, wat in die rigting van Paarl gery het, gebots. Die motorfiets het aan die brand geslaan en die oorledene is op die toneel dood verklaar. Die vragmotorbestuurder het ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel. ’n Ondersoek (strafbare manslag) word gedoen,” het kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, gesê.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se brandweerdienste asook ’n span van Cape Nature het op die brand gereageer.

“Die brand, wat deur die botsing veroorsaak is, veroorsaak baie rook, en gevolglik is die ou pas vir verkeer gesluit. Die KWDM se brandweerdienste op die toneel het altesaam 28 bemanningslede wat bestaan uit brandbestryders en grondspanne, bygestaan deur drie brandweervoertuie asook personeel en voertuie van CapeNature,” het Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipa­liteit, Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Dit is onbekend hoe laat die brand onder beheer gebring is, maar Otto het Dinsdagmiddag laat gesê die pas is steeds toe. Woensdagoggend was spanne steeds op die toneel om voort te gaan met die moniterings- en opruimingstaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article