Terwyl inwoners van die plase op die R43 na Ceres steeds probeer om oor die dood van ’n jong vrou te kom nadat sy sowat ’n maand gelede in ’n tref-en-trap-voorval dood is, is nog ’n jong vrou onlangs ook doodgery.
Marsha Smit (23) is die tweede jong vrou wat in ’n tref-en-trap-voorval op die R43, ook bekend as die Ceres /Wolseley-pad, betrokke was.
Volgens Jakobus Mowers, Smit se oom, was sy niggie en ’n groep vriende en familie op pad huis toe na Olifantsberg – een van die plase langs die pad geleë – toe die ongeluk gebeur het.
Die jongste voorval kom net ’n maand ná – en ’n paar meter weg – van die vorige voorval.
Die vorige ongeluk het die lewe van Michelle Tolie geëis.
Net soos met Michelle se ongeluk was Smit Saterdag (6 Augustus) ná ’n rugbywedstryd op pad huis toe, toe haar lewe deur ’n bestuurder, wat haar op die skouer van die pad getref en weggejaag het, kortgeknip is.
Die groep vriende saam met wie sy was, het voor hulle geloop en sy het saam met haar neef en sy meisie agter geloop.
“Volgens my seun se meisie het sy die motor in die hoek van haar oog gesien, maar toe sy terugdraai om te kyk, was dit reeds naby en sy het net-net daarin geslaag om haar kêrel uit die pad te kry,” sê Mowers.
Die metaalblou motor het van die pad af op die gruis, waar voetgangers loop, in hul rigting gejaag.
Een van hul vriende, wat op pad na Smit-hulle toe was, het gesien iets is fout en het dadelik sy oom gaan roep.
“Ek het in my kar geklim en na die toneel toe gejaag. Toe ek daar aankom, was daar nog tekens van lewe, maar ons het gesukkel om ’n ambulans te kry en sy het aan haar beserings beswyk,” verduidelik Mowers.
Smit word beskryf as ’n saggeaarde mens wat nooit kwaad geword het nie. Volgens haar oom was sy baie stylvol en was sy altyd entoesiasties oor die lewe.
Haar vriende en familie sê sy sal baie gemis word.
Smit is in Leeu-Gamka, waar sy vandaan kom en waar haar ma begrawe is, ter ruste gelê.





