Nóg drie mans aangekeer oor moord op bejaarde (73) in Tulbagh

Karl Lauks
Karl Lauks

Nóg drie mans is weens die moord op Karl Lauks (73) vroeër vandeesmaand in Tulbagh aangekeer.

Lauks is op Maandag (2 Junie) vroegoggend deur ‘n buurvrou dood in sy motor in sy oprit gevind. Dit lyk asof hy verwurg is en verskeie items is gesteel.

Steven Witbooi (29) is kort daarna in hegtenis geneem. Inwoners vertel dat Lauks maande lank deurgeloop het onder inbrake deur ‘n groep mans wat alleenwonende ouer mense teiken. Van die inbrake het volgens ‘n vriendin van Lauks selfs gebeur wanneer hy tuis was en geslaap het. Hy was glo later bang om huis toe te gaan.

Die drie verdagtes – 24, 29 en 19 jaar oud – sal Donderdag 19 Junie in die hof in Tulbagh verskyn, sê Anelisiwe Manyana van die provinsiale polisie.

Witbooi sou op Dinsdag (17 Junie) in die hof verskyn het. Sy saak is ná die onlangse inhegtenisnemings tot 23 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.

Lauks, ‘n Britse burger wat nie familie in Suid-Afrika het nie, het vroeër jare as ‘n bestuurder in die tekstielbedryf ge­werk. Hy woon reeds jarelank in Tulbagh.

DIe huis van Karl Lauks.
Karl Lauks is deur ‘n buurvrou in sy motor, wat in die oprit langs sy huis gestaan het, dood aangetref. Sy huis was een van min in die straat wat wel hoë heinings gehad het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article