Twintig bykomende beddens is nou beskikbaar vir pasiënte wat gereed is vir ontslag uit die hospitaal, maar nog moet aansterk voordat hulle gereed is om huis toe te gaan.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand is trots op hierdie inisiatief wat meer pasiënte toegang tot toepaslike gehaltesorg gee.
Twintig beddens vir hierdie oorgangsorg aan vroue is nou beskikbaar in ’n aparte saal in Brewelskloof-hospitaal. Oorgangsorg bied pasiënte die geleentheid om as binnepasiënte gerieflik toegang te hê tot ondersteunende gesondheidsdienste.
Voorbeelde van pasiënte wat moontlik oorgangsorg nodig het, sluit in pasiënte wat ’n beroerte gehad het en gereëlde sessies met terapeute benodig, of pasiënte wat ’n wond het wat gereëlde sorg benodig. Gesondheidswerkers van die Robertson-hospitaal, Montagu- hospitaal, Ceres-hospitaal en Worcester-hospitaal kan soos nodig pasiënte wat oorgangsorg benodig, na dier Brewelskloof-hospitaal oorplaas.
Dit beteken dat meer beddens in die genoemde hospitale beskikbaar sal wees vir ander pasiënte wat hospitalisering vir ’n akute toestand benodig.
Pasiënte wat vir oorgangsorg na die Brewelskloof-hospitaal oorgeplaas word, sal in ’n aparte saal wees, ’n aparte badkamer gebruik en geen kontak met TB-pasiënte hê nie.
Gesondheidswerkers bly verbind tot dié streng maatreëls om die oordrag van siektes te voorkom.
Brewelskloof is gereed om die eerste pasiënte vir oorgangsorg te ontvang en geliefdes kan pasiënte hier daagliks van 15:00-16:00 en 19:00-20:00 besoek.
Tradisioneel word TB-pasiënte wat ernstig siek is, by Brewelskloof gehospitaliseer, maar personeel is vertroud met die model om nie-TB-pasiënte hier te akkommodeer. Van 2004 tot 2009 het Brewelskloof op een vloer slegs pasiënte van die Worcester-hospitaal gehuisves terwyl opgraderings daar plaasgevind het.
“Ons sien uit daarna om weer ’n helpende hand te kan wees,” sê sr. Rochelle van Rooyen, die hoof van verpleegkunde by die Brewelskloof-hospitaal.
Gesondheidswerkers doen ’n beroep op gemeenskappe om na hul gesondheid om te sien. Hoe gesonder jy is, hoe skraler is die kans dat jy hospitalisering sal nodig hê. Hier is ’n paar praktiese wenke:. Help kinders om gesonder te bly deur hulle vir gratis inenting by klinieke te neem en om vrywaringsvorms te teken dat hulle kan baat by immuniseringsveldtogte wat die departement by skole aanbied.. Kry ’n doeltreffende manier om jou spanning te hanteer. Eerder as om te rook of om ’n uitermatige hoeveelheid alkohol te gebruik, kan jy met iemand wat jy vertrou, praat of by ’n sportgroep in jou buurt aansluit. Deur gereeld aktief te wees, kan jy ook makliker ’n gesonde liggaamsgewig handhaaf.. Eet so gesond as moontlik. Jou maaltye moet ’n verskeidenheid voedselsoorte insluit.. As jy elke aand sowat agt ure slaap, kan jy beter afskakel en sal jou liggaam beter weerstand teen siektes kan bied.
Pasiënte moet steeds soos altyd na hul naaste kliniek gaan as hulle siek word, of na hul naaste hospitaal indien daar ’n noodgeval is.
Indien nodig sal ’n pasiënt in die hospitaal opgeneem word, en indien een van die genoemde hospitale onder baie druk is, kan hierdie hospitale reël dat pasiënte na Brewelskloof-hospitaal oorgeplaas word.




