Daar was die afgelope naweek weer aksiebelaaide krieket by Robertson se sagtebal-krieketunie.
Môreson Knights t. Dorpsig Barbarians
In die eerste wedstryd van die dag het die spanne van Dorpsig Barbarians en Môreson Knights kragte gemeet.
Môreson Knights het eerste gekolf en is almal uitgeboul vir slegs 35 lopies. Hierna was die span van Dorpsig Barbarians op die aanval om ’n vinnige wen aan te teken – met 36/2 in slegs 4.4 boulbeurte. Hiermee wen Dorpsig die wedstryd met agt paaltjies.
Die Stoep t. Tornados
Die tweede wedstryd het die toonaangewende Die Stoep teen die Tornados in aksie gesien.
Die Stoep kolf eerste en hoewel hy gou paaltjies verloor, bereik die span 101 almal uit in 19.4 boulbeurte. Vir Die Stoep was dit Peter-John van Niekerk (26) en Marshid Jagers (22) wat met die kolf uitgestaan het, met Angus Oktober (3/21) en Gavin Smith (2/11) wat vir Tornados met die bal uitgestaan het.
Tornados kry op sy beurt die wind van voor en almal word uitgeboul vir 34 lopies. A. Konstabel (4/10) en Inzamam Matthys (2/1) het verwoesting met die bal gesaai. Die Stoep wen die wedstryd met 68 lopies.
New Orleans t. Indians
In die hoofwedstryd van die dag het die spanne van Mr. Ben (Indians) & Kerneels “Geel Slang” Jacobs (New Orleans) kragte gemeet.
New Orleans kolf eerste en slaan 120 lopies in sy toegelate 20 beurte, met Taylin (29) en die ervare Godfrey “Solla” Paulsen (27) wat weer ’n terugkeer maak tot vlakkiekrieket. Immel (2/14) wys sy staal met die bal.
Op sy beurt begin Indians wisselvallig en kan net nie aan die gang kom nie. Die span word uitgeboul vir 53 lopies, met slegs Viaan Geduld (16) en Teshwill September (15) wat met die kolf weerstand kon bied. Lemart Adams (3/11) en William Appolis (2/1) staan uit met die bal. New Orleans wen die wedstryd met 68 lopies.
. Sondag, 3 Maart, se wedstryde:
09:00 – Die Stoep t. Royals
12:00 – New Orleans t. Superstars
15:00 – Indians t. Pen United

