‘n Aanval op bejaarde toeriste net buite Swellendam het die gemeenskap van dié rustige Wes-Kaapse dorp geruk.
‘n Nederlandse egpaar, wat by die Red Roan-gasteplaas tuisgegaan het, terwyl hulle behandeling by Dr. Zaida Rivene, ‘n chiropraktisyn, ontvang het, is Vrydagaand in hul kamer deur drie mans oorval. Die rowers het toegang deur ‘n venster verkry.
Die mans het die egpaar met stokke aangeval en ‘n hewige struweling het in die kamer ontstaan.
Dit is die tweede geval binne ‘n week in die omgewing. Volgens Jannie Oosthuizen, ‘n woordvoerder van die Swellendam Plaaswag R60, is nog ‘n bejaarde egpaar aan die anderkant van die dorp vroeër met pangas aangeval.
Die Red Roan-gasteplaas is baie naby aan die dorp geleë. Volgens Oosthuizen het die egpaar seergekry, maar nie ernstige beserings opgedoen nie.
“Die plaaswag was baie vinnig op die toneel. Ons het eerste seker gemaak dat hulle fisiek veilig is en nie mediese hulp nodig gehad het nie. Daarna het die span na die verdagtes gesoek met die hulp van ‘n hommeltuig met termiese beeldvorming, maar kon hulle nie opspoor nie,” het hy gesê.
“Die twee was baie getraumatiseer en was baie bang dat die mans sou terugkeer. Nadat ons hulle gerusgestel het dat daar baie mense om hulle is om hul veilig te hou en na die mans soek, was hulle in trane.”
Die voorval het blykbaar op die egpaar se laaste aand by die gasteplaas gebeur.
Die verdagtes het ook R400 en ‘n skootrekenaar uit ‘n kantoor op die plaas gesteel.
Kommer heers dat dié soort voorvalle toeneem met toeriste wat as sagte teikens gesien word. In Februarie is ‘n bejaarde egpaar ook deur vier mans by ‘n gasteplaas tussen Wolseley en Worcester oorrompel en beroof.
“Dié aanvalle was ‘n skok vir die gemeenskap, want sulke dinge gebeur nie gereeld in ons omgewing nie. Swellendam is so ‘n mooi plek. Dié soort goed moet nie steel van dit wat Swellendam is nie.”
Die saak is egter nie by die polisie aangemeld nie, het AO Christopher Spies, ‘n polisiewoordvoerder, bevestig.
Die VF Plus het die voorval veroordeel en gesê die rooftog is uiters ontstellend, aangesien dit nie net op kwesbare bejaardes gemik was nie, maar ook internasionale besoekers aan Suid-Afrika raak. “Sulke aanvalle ondermyn nie net die veiligheid van plaaslike gemeenskappe nie, maar bedreig ook die streek se reputasie as ’n veilige toerismebestemming.”
Hulle het die plaaswag, polisie en ander gemeenskapsrolspelers vir hul vinnige optrede bedank.
“Hierdie samewerking toon weer eens die waarde van gemeenskapsveiligheidsstrukture wat hand aan hand saam met wetstoepassingsagentskappe werk.”




