Vir baie jare is gespekuleer oor die bou van ’n oorgangsbrug by die N1- en Rouxweg-interseksie in Worcester.
Nou, ná jare van beplanning en gesprekke, is die eerste konkrete stappe geneem, met Sanral wat die terrein reeds ondersoek.
Sanral beoog om die N1 oor die volgende vier jaar na ’n vierbaansnelweg op te gradeer, wat sal strek vanaf Meiringspark tot by Glen Heatlie by Hexrivierpoort.
’n Deel van hierdie projek sluit in die bou van ’n oorbrug by die Rouxweg-interseksie.
Die brug sal verkeer tussen Panorama, Van Riebeeckpark en die dorp fasiliteer, maar sal nie meer toegang tot die N1 vanaf hierdie aansluiting bied nie.
Sanral beplan ook om die oostelike verbypad tussen die N1 en die R60-Robertsonpad te voltooi.
Vandeesweek kon opgewonde Worcesteriete sien hoe Sanral se twee boormasjiene aan weerskante van Rouxweg se aansluiting met die N1 opgestel is.
Dit is ’n duidelike aanduiding dat die projek om die oorbrug te bou, nou werklik aan die gang is.
Die boormasjiene boor tans toetsgate om die grondprofiel van die gebied te bepaal. Hierdie data is van kardinale belang vir die ingenieurs om die samestelling van die grond te ontleed en die struktuur van die oorbrug daarvolgens te beplan.
Vir diegene wat langs die N1 verbyry, is Sanral se boormasjiene duidelik sigbaar. Foto’s toon die masjiene aan al twee kante van Rouxweg.
Hoewel baie werk nog voorlê, is die boorwerk wat begin is, ’n positiewe teken dat die droom om swaarvoertuigverkeer uit Worcester se middedorp te hou, uiteindelik ná jare se wag bewaarheid word.
Vir die inwoners van Worcester is hierdie ’n belangrike oomblik en ’n stap nader aan die modernisering van die dorp se infrastruktuur.





