Twee mense is dood nadat ’n Opel Kadett en ’n vragmotor op die N1 in Worcester gebots het.


Twee mense is Sondag (9 Februarie) in die vroeë oggendure in ’n grusame botsing op die N1 buite Worcester dood.

Volgens AO Vatishwa Jacob van die Worcester-polisie was ’n rooi Opel Kadett en ’n vragmotor kort ná 03:00 in ’n botsing op die N1-snelweg in Meiringspark betrokke. Beide insittendes van die Opel is dood nadat die motor reg van voor teen die vragmotor gebots het en die hele voorkant van die motor verwoes is.

Meer inligting oor die oorledenes is nie bekend gemaak nie.

Getuies beweer die motor het uit sy baan gery en reg voor die aankomende vragmotor ingery, sê Jacobs.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. . Agt mense is verlede jaar op Sondag 1 Desember in dieselfde omgewing dood nadat ’n passasiersbus omgeslaan het.

Ses van die oorledenes was kinders.

Tientalle mense is beseer.

Op 25 Desember, etlike kilometer verder op die N1 in Rawsonville se rigting, is nog ’n motorbestuurder verlede jaar dood nadat sy Kia Picanto teen ’n aankomende afleweringsvoertuig gebots het.

Volgens ’n verslag van die provinsie was daar tussen 1 Desember 2024 en 3 Januarie vanjaar 122 sterftes op munisipale en provinsiale paaie, waarvan die meeste in die Wes-Kaapse metro en op die N1-snelweg.

Navrae is aan die Wes-Kaapse departement van vervoer en infrastruktuur gestuur oor wat gedoen word om ongelukke op die snelweg te verminder. Geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article