Worcester se plaaslike kamerkoor en Rapport ATKV Suid-Oosterfees se bekroonde koor, Variati, gaan Worcesteriete binnekort betower met hul besondere klanke.
Dié multi-kulturele groep sangers, insluitend drie blindes, is gereed om jou asem weg te slaan by hul Kerskonsert op 28 Oktober by die NG Moederge-meente Worcester-kerksaal.
Met ’n repertorium van ’n verskeidenheid kersliedere en bekende kersgesange, beloof Variati om jou deur die hele konsert op die punt van jou stoel te hê.
Met werke soos The Lord bless you and keep you en All things bright and beautiful van John Rutter, gaan die lig en helder klanke van die soprane en alte jou, soos nagtegale, in vervoering bring.
En vir die liefhebber van die warmer en dieper klanke van tenore en basse gaan die manne jou beslis beïndruk. Sibelius se “Song of Peace”.
Die koor se vertolking van Mark Lowry en Buddy Greene se “Mary did you know” en die bekende “Come colours Rise” van Frank Barry en Grant McLachlan gaan jou beslis in meevoering bring.
Volgens Craig Tobias, voorsitter van die koor, doen die groep hul naam gestand omdat hulle ’n verskeidenheid van musiek aanpak en ook verskillende tipe mense in die koor het – iets wat die koor anders maak.
Koorleier Sonja Coetzee stem saam en sê: “Dit is juis dit wat die koor so besonders maak. Ons beskik oor ’n verskeidenheid van stemkwaliteite wat ons toelaat om amper enige musiekstuk uit te voer. Die koor is waarlik ’n variasie van sangers – ’n Variati van klanke.”
Die konsert begin om 19:00 en kaartjies is beskikbaar teen R50 elk by koorlede en by die deur.





