’n Ma is liefde, wysheid, geduld, staal en ragfyn kant. Sy is ’n dokter, onderwyser en sielkundige in een. Hierdie Moedersdag vier ons ses van Innovation for the Blind se “ma’s” – die vroue wat die rol van ma speel vir ons inwoners en in wie se harte altyd plek is vir nog enetjie.
Estelle, assistent-bestuurder van Huis Brevis, ons tehuis vir bejaardes, is reeds 17 jaar betrokke by Innovation. Sy is die liefdevolle ma van 80 inwoners en ken elkeen se hart soos die palm van haar hand. Sy glo met haar hele wese dat hier waar sy vandag is, is waar sy hoort.
Estelle voel dat, alhoewel sy soos ’n ma is vir haar inwoners, die inwoners ook soos ouers is vir haar. Sterftes onder bejaardes is ongelukkig ’n realiteit en hulle treur saam as Brevis-familie met elke afsterwe van ’n inwoner.
Estelle is egter nie die enigste ma van Huis Brevis nie – sy deel hierdie rol met ene Tannie Una. Tannie Una, wat hierdie jaar 80 word, is reeds 3 jaar by Huis Brevis en Estelle beskryf haar tong in die kies as die “stoutste tannie in Brevis”. Tannie Una word gereeld “ma” genoem deur Brevis se personeel, want sy help altyd waar sy kan – van die eettafels dek, in die kombuis of ’n handjie bysit met funksies. Haar kamer is in die gepas genoemde gang “Leeubekkie Laan” geleë, en is elke aand gevul met inwoners wat ’n tee of ’n “soete” geniet.
Alidah los tans af as toesighouer by Ebenhaezer, ons tehuis vir mense met meervoudige gestremdhede. Sy is reeds 26 jaar betrokke by Innovation. Sy beskou haarself as ’n moeder-figuur en voel haar werk is beslis ’n roeping – iets waarvoor jy die hart en passie moet hê. Die 90 meervoudig gestremde inwoners van Ebenhaezer kom na Innovation as hul “forever home”, en is dit vir Alidah uiters belangrik om hul “nuwe” tuiste so huislik as moontlik te maak.
Carien is die toesighouer van Huis Jack Pauw en AS Cronjé-woonstelle, ons tehuise vir visueel gestremde vroue en getroude paartjies. Sy is reeds 10 jaar betrokke by Innovation en het 59 inwoners onder haar sorg. Carien is baie geheg aan haar inwoners, en hoewel sommige maar ’n stoutigheid in hulle het en soms kattekwaad aanvang, bly sy lief vir hulle, nes ’n ma. Carien woon in by Huis Jack Pauw en wanneer die inwoners met vakansie is, mis sy haar mense vreeslik – so erg dat sy haar verbeel sy hoor hulle nog in die gange.
Faith en Tsepiso is die twee ma’s van Huis de Villiers, ons tehuis vir visueel gestremde mans. Hulle is onderskeidelik 17 jaar en 10 jaar betrokke by Innovation, maar is albei vir die afgelope twee jaar die ma’s van hierdie groep manne. Vir Faith en Tsepiso is dit so ’n groot voorreg en trots om as ma’s te funksioneer in Huis de Villiers. Die rol kom vir hulle natuurlik omdat hulle reeds ma’s by hul eie huis en kerk is. Vir hul albei is die belangrikste deel van ma wees om liefde te gee aan jou kinders – en by Huis de Villiers deel hulle graag liefde en drukkies uit aan “hulle” seuns. Soos Tsepiso dit stel: “ ’n Huis is nie ’n tuiste sonder ’n ma nie”.
Bederf jou ma met iets moois van ons winkel
Bederf jou ma of die moeder-figuur in jou lewe met mooi en bekostigbare geskenke van Ons Winkel, Kerkstraat 126, Worcester.
Volg gerus ons Facebook-bladsye “Innovation for the Blind” en “Innovation for the Blind Shops” vir foto’s van ons pragtige produkte en spesiale aanbiedinge.

