Vroeë intervensie is die sleutel om natuurlike ontwikkeling van Dowe en hardhorende babas moontlik te maak.
As jy vermoed jou baba kan nie hoor nie, kry dadelik hulp.
Die eerste paar jaar van ’n kind se lewe is wanneer taal aangeleer word, en as hy of sy nie aan ’n toeganklike taal blootgestel word nie, sal taal nie natuurlik ontwikkel nie.
Ideaal gesproke moet die kind teen die ouderdom van een maand getoets word en teen drie maande gediagnoseer word sodat vroegtydige intervensie kan plaasvind. Wees op die uitkyk vir tekens dat jou baba nie kan hoor nie, en reël om hom of haar deur ‘n oudioloog te laat ondersoek.
Wees op die uitkyk vir hierdie vroeë waarskuwingstekens volgens ouderdom: . Geboorte: Skrik jou kind vir harde geluide en maak hy/sy baba-geluide?. Op drie maande: Glimlag jou kind wanneer jy met hom praat en babbel hy?. Ses maande: Draai jou kind na die kant waar geluide vandaan kom en het hy/sy al met klank begin eksperimenteer?. Nege maande tot een jaar: Kyk jou kind op wanneer jy roep? Skep jou kind “spraakagtige” klanke met enkele lettergrepe aanmekaar geryg soos da-da-da-da?. Een tot jaar: Verstaan jou kind eenvoudige frases? Het jou kind ’n woordeskat van tussen 20 en 50 woorde en gebruik jou kind kort frases?. Twee tot vier jaar: Verstaan jou kind ’n gesprek maklik en gebruik jou kind twee tot drie woorde in sinne?. Vier tot ses jaar: Dink almal wat jou kind ken, dat hy/sy goed hoor? Is jou kind in staat om inligting oor te dra en vrae te vra?
Indien jy “nee” op enige van hierdie vrae geantwoord het, word dit sterk aanbeveel dat jy dadelik raad inwin. Behandeling sal afhang van jou baba se algemene gesondheid, die oorsaak van gehoorverlies en graad van gehoorverlies. As jou baba gehoorverlies het, is dit belangrik om so gou as moontlik met behandeling te begin – voor ses kan dit hom /haar help om spraak-, taal- en sosiale vaardighede te ontwikkel. Na gelang van die diagnose kan behandeling die volgende insluit: Kogleêre inplanting, oorpypies, gehoorapparaat, aanleer van spesiale taalvaardighede, medisyne (insluitend antibiotika), spraakterapie en chirurgie.
Sommige soorte gehoorverlies, soos gehoorverlies wat deur gene veroorsaak word, kan nie voorkom word nie, maar jy kan help om gehoorverlies, wat verband hou met ander oorsake soos infeksies en vroeggeboorte, te voorkom. Gaan na al jou voorgeboorte-ondersoeke tydens swangerskap en beskerm jouself teen infeksies. Neem jou baba vir al sy /haar ondersoeke en inentings ná geboorte en kry vroeë behandeling vir oorinfeksies.
Hou ook jou baba weg van harde geluide.
Gehoorverlies is nie die einde van die wêreld nie; dit is ’n nuwe wêreld wat oopgaan. Met die regte voorbereiding, ondersteuning en leiding kan jou kind steeds ’n vol lewe lei en enigiets behaal.. Besoek www.nid.org.za of stuur e-pos na lynettevictor@nid.org.za vir nog inligting en hulpbronne.


