Derduisende mense het die afgelope Paasnaweek die befaamde Nekkies-musiekfees bygewoon.
Hierdie was ook die eerste jaar dat dié fees oor al vier dae van die naweek gehou is. In die verlede is dié musiekfees net vir twee dae gehou.
Vrydag het gesorg vir ’n verskeidenheid gospel-optredes, met die res van die naweek wat ’n mengelmoes van plaaslike, nasionale en internasionale sterre aan feesgangers voorgesit het. Bekendes soos Judy Boucher, Mi Casa en Mafikizolo het seker gemaak die skare woon die hele naweek die fees by.
Die gewilde fees het Vrydagmiddag om 15:00 begin en eers Maandagaand om 21:00 moes feesgangers terugkeer na die werklikheid.
Daar was ook ’n gedeelte waar kinders hulself kon vermaak en besig hou, en natuurlik ook ’n verskeidenhied kosstalletjies.
Feesgangers en aanhangers van die jare lange fees sien uit na waarmee die Breedevallei-munisipaliteit volgende jaar vorendag sal kom.





