Die muur rondom die Moslem- begraafplaas in Fairbairnstraat in Worcester is onlangs deur die Breedevallei-munisipaliteit herstel nadat vandale van die panele gesteel het.
Volgens die raadslid dr. Julian Kritzinger het die munisipaliteit se afdeling vir siviele werke onlangs 19 panele wat uit die Vibracrete-muur in die deel oorkant Bolandpark gesteel is, vervang.
“Elke keer as ‘n mens daar verbygery het, het jy gesien dat booswigte net weer nog ‘n paneel gesteel het. Dit is tragies om te dink dat daar diegene is wat geen respek vir die dooies het nie,” het Kritzinger gesê.
Hy het verduidelik hoewel die begraafplase in Kerkhofstraat en Fairbairnstraat soos een begraafplaas lyk, dit 23 verskillende persele is. Dit behoort aan verskillende instansies en gemeentes. Hiervan is slegs drie munisipale begraafplase, met die res wat aan verskillende gemeentes behoort. Elke gemeente is verantwoordelik vir sy eie perseel se instandhouding.
Van die uitdagings is dat van die gemeentes nie meer bestaan nie of nie geld het om die instandhouding te doen nie.
Die munisipaliteit help gereeld om die instandhouding te doen. “Wyk 7 se wykskomitee het voorheen sy wyksgebaseerde finansiering aangewend om die begraafplase van die NG Moedergemeente, die Apostoliese kerk en die Lutherse kerk se straatfronte mooi netjies te omhein nadat alle mure en draadheinings gesteel is.”
Die Moslem-begraafplaas se Vibracrete-mure kon nog gered word. Kritzinger het versoek dat die gemeenskap saamwerk en dit dadelik aanmeld as hulle sien dat iemand die panele weer steel. Hulle kan die 24-uur-inbelsentrum by 0860 121212 of ssc@bvm.gov.za kontak sodat wetstoepassers onmiddellik ontbied kan word.





