The City of Cape Town has gazetted the amended traffic bylaw, which now allows authorities to impound vehicles in violation of certain regulations immediately.

Jamey Gordon

Worcester se motoriste meen dat die verkeersdepartement meer personeel moet ontplooi gedurende beurtkrag, veral tydens spitsverkeer.

Een inwoner meen dat hy sommige oggende selfs 15 minute langer werk toe ry danksy beurtkrag en die gebrek aan verkeersbeamptes by sekere punte.

“Ek ry gewoonlik tot by my werk in minder as vyf minute. Nou, met beurtkrag, kan dit sommige oggende tot selfs 20 minute neem net om by die werk te kom. Ons sien ook dan nêrens enige beamptes om die lading te verlig nie,” verduidelik Hendrik du Preez aan Standard.

Du Preez sê sommige dae is verkeersbeamptes by die Rabie -en Governorstraatkruising, maar doen nie veel om die verkeer te laat vloei nie.

“Meeste oggende is daar niemand nie, dan is elkeen maar oorgelaat aan sy eie genade. Dit sloer. Partye oggende is daar beamptes wat wel help en dan kry jy weer oggende waar beamptes net rondstaan en monitor. Die ergste is wanneer die verkeer opgehoop staan en jy sien beamptes wat gereedmaak om spoedkameras op te rig.”

Charlene Ellis, ’n inwoner van Rawsonville, ry elke oggend vanaf Rawsonville na Worcester. Sy laai eers haar twee spruite by die skool af en daarna gaan sy werk toe. Sy verduidelik dat sy al “breekpunt bereik het” wat verkeer in die dorp tydens beurtkrag aanbetref.

“Gewoonlik sou dit sowat 20 minute neem van Rawsonville na die skool en dan tot by my werk. Nou neem dit ongeveer dubbel daardie tyd. Op die Villiersdorp-pad staan beamptes en fokus op die skoliere, maar die verkeer ly daaronder. Albei is ewe belangrik, dit moet net reg bestuur word. Die verkeerslig by die Drostdy-sentrum word ook nie reg bestuur nie en vir my om by die mall waar ek werk uit te kom, is ’n nagmerrie.”

Die woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, Hannelie Botha, sê die BVM ontvang meestal baie goeie kommentaar vir die dienste wat hulle verrig wanneer daar soggens kragonderbrekings is, en dat hul beamptes ingedeel is om die druk te verminder.

“Ons verkeersbeamptes is ingedeel in twee skofte. Ons probeer so ver moontlik beamptes plaas op sekere kruisings waar ons vermoed probleme kan ontstaan. Inwoners moet in gedagte hou dat ons soggens verskeie skole bedien, wat vir ons die heel belangrikste is. Die res van die beamptes word op verskillende kruisings geplaas. In baie gevalle trek ons beamptes van die ander skof om uit te help,” verduidelik Botha.

Sy voeg by dat indien probleme ondervind word by die kruisings op die N1, word provinsiale verkeer versoek om verder te help.

“Die publiek word gevra om geduldig te wees. Ons kollegas in uniform doen hul bes om verkeer te reguleer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article