’n Polisiekonstabel het Vrydagoggend in ’n polisiestasie losgebrand en een persoon noodlottig gewond, waarna hy huis toe is en homself geskiet het.
Die skietery het om 07:50 by die Ashton-polisiestasie in die Wes-Kaap plaasgevind. In hierdie stadium is baie min inligting oor die voorval beskikbaar.
Kolonel Andre Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die ondersoek word deur die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) hanteer.
“Daar word beweer dat die 34-jarige konstabel, wat ten tyde van die voorval aan diens was, op drie lede van die publiek losgebrand het en ‘n man in sy dertigs noodlottig gewond het.
“’n Tweede man, ook in sy dertigs, is gewond en in die hospitaal opgeneem, terwyl ‘n derde man ongedeerd is. Die polisiebeampte het toe die polisiestasie verlaat en na sy woning in Zolani in Ashton gery, waar sy liggaam met ‘n skietwond gevind is. Die motief vir die voorval moet nog vasgestel word. Die omstandighede rondom die moord, poging tot moord en geregtelike ondersoek word deur Opod ondersoek,” het Traut gesê.



