Adeeb Ismail was ’n geliefde brandweerman.Talle mense het opgedaag om Adeeb vir die laaste keer te groet. Foto:


“Ek het nie regtig ’n antwoord vir hoe dit tans met ons gaan nie. Die familie en die hele vriendekring vat dit maar nog swaar.”

Dit is die woorde van Essop Ismail, broer van Adeeb Ismail, wat Vrydag 13 September in ’n motorfietsongeluk in die Piekenierskloofpas omgekom het.

Adeeb, sowel as Essop, was Vrydag op pad na ’n motorfietssaamtrek in Springbok.

“Ek is so 45 minute ná Adeeb uit die dorp. Ek het omtrent 10 km buite Worcester die oproep ontvang dat hy in ’n ongeluk betrokke was, maar hulle kon nog nie sê hoe ernstig sy beserings was nie.”

Hy het onmiddellik die familie en vriende laat weet en sy weg na die toneel gevind.

Aangesien albei broers vir die familie se insleepdiens gewerk het, was hulle ietwat gewoond aan ongelukstonele.

“Maar omdat ons gereeld ongelukstonele bygewoon het, het ek heelpad ’n klomp scenario’s uitgedink. Die persoon wat gebel het, het vir my gesê dit lyk nie goed nie en dat ek so gou moontlik daar moet kom. Die persoon het ook gesê ek moet ons vriend Kobus, ’n paramedikus van Worcester, ook laat weet – dit het my net meer senuagtig gemaak.”

Sowat 30 km voor die toneel het hulle die tyding gekry dat Adeeb aan sy beserings beswyk het. Mense van wyd en syd het in ongeloof oor die bekende, vriendelike en behulpsame brandweer­man se dood reageer – eienskappe waarvoor hy deur baie onthou sal word.

“Hy was baie vriendelik en altyd behulpsaam. Hy was wel erg stout op skool, maar nie disrespekvol nie, en hy was altyd reg vir ’n grappie. Hy was regtig ’n staatmaker en enigeen kon altyd op sy nommer druk,” verduidelik Essop emosioneel.

Hy herroep ’n brand wat vroeër vanjaar in Durbanstraat uitgebreek het.

“Dit was tydens ons vastyd. Dit was in die oggendure terwyl Adeeb reggemaak het om moskee toe te gaan toe een van ons vriende hom gebel het. Hy het toe vinnig moskee toe gegaan en daarna na die toneel toe gegaan en my gebel en gevra ek moet sy brandpak vir hom bring. Hy was van diens af, maar dit was net weer eens ’n bewys dat hy altyd gewillig was om mense te help.”

Hy was sedert 2012 ’n lid van die Breedevallei-brandweer.

“Selfs voordat hy ’n brandweerman geword het, het hy sy BAA-kursus (basic ambulance attendant) voltooi. Omdat ons soms voor reddingswerkers op ’n toneel kom, probeer ons altyd om die beseerde mense te help. Ons het altyd ’n goeie verhouding met die brandweermanne gehad en hulle het hom aangemoedig om aansoek te doen toe poste beskikbaar word. Hy het sy onderhoude met flying colours geslaag.”

Buiten dat hy aan sy gemeenskap toegewyd was, was Adeeb ook ’n toegewyde pa en familie-mens. “Soms moes ek uit die dorp reis. Ek hoef nie eens vir Adeeb te gevra het om my kinders te gaan haal nie; hy het sommer outomaties geweet wat alles in my afwesigheid gedoen moes word. As my pa ook laat uithuisig was, het hy seker gemaak my ma is oukei. Hy was mal oor sy dogtertjie en my kinders – hulle was gaande oor hom ook. Hy was baie lief daarvoor om hulle – wanneer hy af was – uit te neem na plase en parke en om na diere te gaan kyk.”

Die janaaza (begrafnis) het talle mense gelok. In video’s van die prosessie van die moskee na die begraafplaas kan gesien word hoe die gemeenskap die sypaadjies op die roete vol staan.

Selfs by die begraafplaas moes baie begrafnis­gangers buite staan omdat daar soveel mense was om Adeeb finaal te groet.

Die brandweer het ook hul laaste eer aan hom betoon deur sy lyk op een van hul brandweerwaens van die moskee na die begraafplaas te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article