MONTAGU – Die twee buurklubs Villagers Montagu en Montagu-klub het Saterdag (16 September) aan ’n rugbydag op die King Edward-sportterrein deelgeneem en in die hoofwedstryd sake om die Swanns-uitdaagbeker uitgespook.
Die trofee, wat met ’n prysgeld van R10 000 gepaard gaan, is ’n nuwe instelling en die geesteskind van ’n plaaslike sakeman, Juan Swanepoel.
Volgens Swanepoel was die doel hiervan eerstens om die twee klubs met ’n geldinsamelingsprojek by te staan en tweedens is dit ook ’n poging om die verdeelde plaaslike rugbygemeenskap te verenig.
Verskeie voorwedstyde, waaraan twee laerskole, W.A. Rossouw Primêr en Ashbury Primêr, ook deelgeneem het, is gespeel, terwyl oud-rugbyspelers in ’n oukrokswedstryd die jonglatte, tot groot vermaak van die toeskouers, “gewys” het hoe dinge nou éintlik gedoen moet word.
Young Warriors en Young Turbos het mekaar in die hoofvoorwedstryd die stryd aangesê.
’n Kompetisie vir die beste klubondersteunersuitrusting is ook gehou, terwyl trompoppies van Klub en Villagers die toeskouers in rustyd van die hoofwedstryd met hul danspassies vermaak het.
Montagu-klub het die eerste houer van dié beker geword en met die R10 000-prysgeld weggestap toe hy sy buurman, Villagers Montagu, in ’n opwindende vriendskaplike kragmeting met 52-25 afgeslag het.
Klub het die wedstryd geheel en al oorheers en altesaam agt drieë gedruk, terwyl Villagers, wat sonder ’n paar A-spanstaatmakers gespeel het, Klub se doellyn slegs drie keer kon oorsteek.
Vir die wenspan het Doné Davids, Nico Khana, Mac-John Daniëls, Elzano Khana, Gerswin Alberts, Ryan George (2) en Taine-Randell Booysen drieë gedruk. Handré Ontong het ses hiervan verdoel.
Villagers se driedrukkers was Tyrone Fortuin, Admey Strydom en Charl-Hein Saunders. Maxwell Klaasen het met twee strafdoele en ’n doelskop geslaag, terwyl Strydom ook ’n doelskop oorgeklits het.
Die plan is om dié rugbydag ’n jaarlikse instelling na afloop van elke jaar se amptelike rugbyprogram, te maak in ’n poging om die ondersteuners van die twee klubs nader aan mekaar te bring.
Bennie van Rooi, president van die Boland-rugbyunie, wat ook die rugbydag bygewoon het, het sy ondersteuning en waardering vir dié versoeningsinisiatief in ’n kort toespraak uitgespreek.
Hy het ook Swanepoel se onbaatsugtige bydrae beklemtoon en hom daarvoor geprys.





