Enrico Julies, slot van Montagu-klub, breek weg met die bal, terwyl twee Rawsonville-verdedigers probeer om hom plat te trek. Rawsonville het goed rekenskap van homself gegee, maar Montagu was aan die einde van die dag te sterk vir die nuweling in die Grootuitdaagbeker-kompetisie. Die tuisspan het met 31-22 geseëvier.Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Ná ’n baie wankelrige begin in die huidige rugbyseisoen, speel die Montagu-klub tans bestendig en is stadig maar seker besig om sy koers na die boonste gedeelte van die punteleer te vind.

Montagu beklee tans die vierde plek op die Grootuitdaagbeker-punteleer in die Breë-Langebergstreek nadat hy die afgelope Saterdag (27 April) ná ’n hengse geswoeg op die King Edward-sportveld ’n begeesterde Rawsonville United tot oorgawe gedwing het.

Rawsonville, ’n nuweling in die Grootuitdaagbeker-afdeling, het die wedstryd baie entoesiasties afgeskop en die tuisspan in die eerste paar minute onder geweldige druk geplaas.

Ofskoon die besoekers se vurige spel Montagu effens onkant betrap het, kon Rawsonville nie daaruit munt slaan nie.

Montagu het die aanvanklike druk met uitstekende verdediging verwerk en minute later met ’n verdoelde drie die voortou met 7-0 geneem.

Rawsonville het egter kort daarna met ’n onverdoelde drie teruggekap om die telling 7-5 te maak.

Die besoekers het met groot selfvertroue gespeel.

Hulle het hulself so goed van hul taak gekwyt dat hulle kort hierna die leisels ná nog ’n onverdoelde drie oorgeneem het en die telling na 10-7 in hul guns laat aanskuif het.

Montagu, wat die oorhand in die skrums gehad het, het egter voor rustyd met nog twee drieë, waarvan een verdoel is, ’n greep op die wedstryd gekry en teen waterdrinktyd weer die hef in die hand gehad met die telling wat na 19-10 in sy guns gegroei het.

Ná die blaaskans het Montagu sy houvas met nog ’n sewepunter verstewig, wat die telling na 26-10 geneem het.

Rawsonville slaan terug met twee drieë en kom daarmee weer binne bereik van die tuisspan met 22-26.

Een van dié drieë was ’n pragtige langafstanddrie, wat sy oorsprong van binne sy eie kwartgebied gehad het.

Ondanks verskeie aanvalle deur Rawsonville in die laaste klompie minute, het Montagu die stange behoorlik vasgebyt en die wedstryd met ’n onverdoelde drie verseël om met 31-22 te wen.

Charlton Scholtz (losskakel) het deurentyd geskitter en ’n driekuns aan drieë vir Montagu behaal. Scholtz het ook met drie doelskoppe geslaag, terwyl Niven Langdown (skrumskakel) en Jenovan Soldaat (regtervleuel) ook agter die besoekers se doellyn gaan kuier het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article