MONTAGU – Die rugbyspanne Montagu Klub en Worcester Villagers was Saterdag (6 Julie) op die King Edward-sportterrein in ’n tweederondewedstryd van die Grootuitdaagbeker-kompetisie in ’n titaniese stryd gewikkel.
Die wedstryd sal waarskynlik onthou word vir Villa, soos die Worcester-span ook bekend staan, se terugvegpoging nadat hy kort ná die afskop 14-0 agter was.
Die spanne het mekaar aanvanklik gevoel-voel met lang skoppe veld-op in ’n poging om gebiedsvoordeel te probeer wen.
Dit was egter die tuisspan wat tot die aanval oorgegaan en die telbord eerste aan die rol gesit het toe Cleve Malgas (regtervleuel) in Villa se kwartgebied ’n bal uit gebroke spel opgepik, ’n verdediger afgestamp en agter die doelpale afgerond het.
Charlton Scholtz (heelagter) het nog twee punte met die doelskop bygevoeg en sy span ’n vroeë voorsprong van 7-0 besorg.
Slegs ’n paar minute later was Villa weer in ’n kringetjie onder sy doelpale nadat Malgas sy tweede drie in die regterhoek gedruk het. Scholtz het die moeilike doelskop van teen die kantlyn af netjies tussen die pale deurgestuur en Montagu se voorsprong na 14-0 vergroot.
Villa het hom egter nie van stryk laat bring deur die blitzkrieg van twee drieë deur Montagu nie. Inteendeel, hy het hierna karakter gewys en kalm en doelgerig begin terugveg.
Ná ’n lynstaan in die tuisspan se kwartgebied het Villa gedryfmaal en toe die bal na agter gespeel. Austin Hendricks (losskakel) is in besit gestel, wat die verdediging geklop en langs die linkerregoppaal oorgeval het.
Hendricks het sy eie drie verdoel en Villa se agterstand verklein met die telling wat 14-7 geword het.
Nie lank hierna nie het Villa sake gelyk gemaak nadat Jonathan Jordaan (heelagter) vir ’n paar verdedigers hakskene gewys en sy span se tweede drie, wat deur Hendricks verdoel is, gaan druk het (14-14).
Montagu het egter kort hierna weer die voortou geneem toe hy ’n fout van Villa uitgebuit en Niven Langdown (losskakel) oor meer as die helfte van die veld genael het om met ’n pragdrie af te rond. Scholtz se doelskop was tussen die pale deur (21-14).
Die opwinding het voortgeduur toe Villa se wakker skrumskakel, Gurshwin Africa, Montagu kort voor rustyd in sy kwartgebied vas aan die slaap betrap het.
’n Strafskop is in Montagu se kwartgebied aan Villa toegeken. Africa het die bal geneem, vinnig getikskop en na Hendricks geslinger, wat twee verdedigers na lug laat gryp het voordat hy vir sy tweede drie oorgeduik en weer self verdoel het, om die rustydtelling op 21-21 te staan te bring.
Nadat die wedstryd vir die tweede skof hervat is, wou spel egter nie vlot nie. Dit het ’n stop/hervat-affêre afgegee weens talle beserings, foute en ongedissiplineerde spel geword.
Keathan Olivier (skeidsregter) het drie spelers – een van Villa en twee van Montagu – in drie afsonderlike voorvalle weens ongeoorloofde spel afgestuur.
Die glans en opwinding van vroeër was nie meer daar nie.
Nietemin was die telling ’n derde keer in die wedstryd weer gelyk toe eers Hendricks vir Villa en daarna Scholtz vir Montagu met ’n strafdoel elk geslaag het om dit 24-24 te maak.
Villa het uiteindelik die kragmeting met ’n onverdoelde drie deur sy vaskopstut beklink.
Die eindtelling was 29-24.




