Moenie betrokke raak by bendes en dwelms nie. Dié waarskuwing is aan leerders van die Worcester Secondary School for the Arts gegee tydens ‘n besoek van die polisie se teenbende-eenheid op Donderdag 10 April.
Hoewel die onderwerp ernstig was, is die kinders bederf met ‘n optrede deur die polisie se welbekende orkes wat die voete laat jeuk het. Die burgemeester, Antoinette Steyn, en onderburgemeester, Juben von Willingh, het die geleentheid ook bygewoon.
Dié projek met besoeke aan skole is begin om bendegeweld en dwelmgebruik by skole te ontmoedig. Die kinders is gewaarsku om die regte keuses te doen en nie toe te gee aan groepsdruk nie.
Die Breedevallei-munisipaliteit het in ‘n plasing op sosiale media gesê bendes hou ‘n ernstige bedryging vir die samelewing in, veral vir plaaslike gebiede soos Roodewal, Riverview en Avianpark. “Hierdie negatiewe neiging versprei nou ook na skole, wat die veiligheid van leerders en onderwysers bedreig,” het Von Willingh gesê.
“Bendes is ‘n probleem wat ons almal raak – ook ons familie en gemeenskappe. Die gevolge van dié groeiende probleem kan ons almal se toekoms raak. Dink aan jou drome – wil jy eendag ‘n dokter, ingenieur, kunstenaar of atleet word? Hierdie drome sal aan skerwe wees as ons nie teen bende-aktiwiteite en misdaad optree nie. Ons moet na onsself omsien en ook na die mense om ons,” het hy aan die leerders gesê.




