Audrey Kolane, ’n 26-jarige van Stofland in De Doorns, het op 25 April in besigheidsinligting en administrasie aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie gegradueer.


“Dit was nog altyd my droom om my omstandighede te verander en my ouers gelukkig te maak, maar steeds het ek teleurgestel.”

Audrey Kolane, ’n 26-jarige van Stofland in De Doorns, is ’n jong vrou wat in 2016 by Esselenpark Sekondêre Skool gematrikuleer het. Ten spyte van die feit dat sy nie van Worcester is nie, was dit die skool wat haar ouers vir haar gekies het. Dis hier waar sy gevorm is en ’n identiteit begin kweek het – een waarop sy trots kon wees, totdat sy die grootmenslewe moes betree.

Audrey was vasbeslote om te gaan studeer. Maar om die een of ander rede het universiteite haar nooit aanvaar nie.

In 2017 het sy swanger geraak. ’n Geskenk van God, maar wat haar wel laat swoeg het.

Gedurende die week moes sy haar arbeid inspan vir die plaas en naweke moes sy by Pep gaan werk.

“Dit was moeilik om my baba te sien. Soggens as ek die huis verlaat, het hy nog geslaap en wanneer ek terugkeer van die werk, het hy ook geslaap. Dit was ’n bitter pil om te sluk,” vertel sy.

Hierdie pil kon egter nie vergelyk word met die nog bitter pil wat sy later in die jaar moes sluk nie – die heengaan van haar baba.

Sy vertel dat sy vandag nog met vrae sit en probeer verstaan hoekom en waarom dit moes gebeur, maar sy kan net nie.

Selfs die goeie nuus van 2019 kon nie rus bring nie. Dis gedurende hierdie jaar toe sy hoor dat sy aanvaar is om aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie te gaan studeer in besigheidsinligting en administrasie – ’n fase in haar lewe wat sy eie uitdagings gebring het, onder meer die gebrek aan ’n skootrekenaar en Covid-19, maar dis uitdagings wat sy in die gesig gestaar en oorkom het. “By tye wou ek opgee en die maklike uitweg kies, maar my pa was altyd daar vir my,” deel Audrey.

“Die gevoel van oor die verhoog loop is onbeskryflik. Ek sal 25 April vanjaar nooit vergeet nie – trane, trane en trane. Ek kan net God dank vir die feit ek gegradueer het. Met alles wat voor my afgespeel het, was Sy hand oor my.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article