Sy is net vier dae oud, maar dit neem meer as een paar hande om baba Pearl* te help om haar ma se waardevolle borsmelk te kry.

Vir Pearl om te groei en gesond te bly, is borsmelk die enigste voeding wat nodig is vir die eerste ses maande. Suster Lynette Trichardt en assistent­verpleegster Hanlie Dipper (Dippie) van die Worcester-gemeenskapsdagsentrum besef dit, so wanneer ’n vrou wat sukkel om haar baba te voed, aanklop, probeer hulle om dadelik te help. Wêreldborsvoedingsweek is onlangs herdenk en die Wes-Kaapse departement van gesondheid vra dat almal vroue ondersteun om te borsvoed.

“Hier kan jy nie inkom en dink jy lyk mooi nie. Hier swéét jy,” lag Trichardt. “Ons kan so ongeveer drie vroue wat opdaag vir hulp met oorvol borste, help tussendeur die gewone take, maar ons wys niemand weg nie, want borsvoeding is te belangrik. Dis die beste ding wat jy vir jou kind kan doen. Baie dae gaan dit dol, maar ander personeel kom sit hand by,” vertel sy.

Trichardt en Dippie wissel mekaar af – een help om ’n bors te stimuleer sodat die melk vloei, terwyl die ander Pearl vertroos en dan van die borsmelk met ’n bekertjie voer. Op ’n brose vier dae oud kan Pearl melk drink op hierdie manier. Die ma verduidelik dat toe Pearl nie wou drink nie, sy formulemelk gekoop het. Toe Pearl dit nie wou drink nie en haar borste net voller en seerder word, het sy na die sentrum gekom.

“Sodra die melk inkom, is die vloei te sterk vir jou baba. Ons moet van dit uitmelk, dan sal sy makliker kan drink,” verduidelik Trichardt aan die ma. “Die meeste vroue het genoeg melk, maar babas raak gou moeg gesuig. Dis nuut vir hulle en dit sal ’n tyd neem om te leer. Selfs ses weke ná geboorte is nog ’n te kort tydjie vir hulle om dit te leer.”

Terwyl Trichardt en Dippie flink beweeg om ma en baba te help, gebruik hulle die geleentheid om te vra oor ondersteuning wat daar tuis is, oor haar verhouding met Pearl se pa, en sy word daaraan herinner om gesond te bly ter wille van Pearl. “Jou baba kry haar immuniteit van jou, so jy moet gesond eet, nie ’n doppie of kelkie vat nie en nie rook nie. Alles moet jy nou vir jou baba doen. As jy besluit om iets anders te doen, is dit teen jou baba.”

Trichardt sê dis baie bevredigend om ma’s hiermee te help, maar dat haar hart breek as ’n vrou terugkom en sê die baba is op blikmelk (formulemelk). “Borsvoed, borsvoed, borsvoed! Ek wil dit van die berge af skree dat almal kan hoor. Daar is net te veel kinders wat siek raak omdat formulemelk nie reg aangemaak of die bottels nie reg skoongemaak word nie, en omdat die baba nie die ma se immuniteit kry nie,” sê sy.

Die departement eggo Trichardt se vermaning en vra dat vroue uitsluitlik sal borsvoed vir die eerste ses maande van die baba se lewe. Van ses maande af kan borsmelk aangevul word met kos wat veilig is vir die baba, tot die ouderdom van twee jaar. Die baba se eerste 1 000 dae van lewe is ’n unieke tydperk waarin die meeste groei en ontwikkeling plaasvind. Deur die beste voeding, liefde, aandag en sorg te gee hierdie tyd, vestig jy ’n basis wat die kind se gesondheid vir die res van hul lewe bepaal.

“Eksklusiewe borsvoeding . . . dis so ’n mooi stelling, nè,” sê Trichardt. “Formulemelk beteken dit is in ’n fabriek gemaak volgens ’n resep. Ons het nie blikke gekry nie, maar borste. Ek respekteer dit as vroue weens hul eie gesondheid of ’n ander rede besluit om formulemelk te gebruik, maar hulle moet die impak verstaan. Jy moet dit reg aanmaak en die bottel reg skoonmaak. Jy gaan dikwels nié hiermee ondersteuning hê in die middel van die nag nie. Baie mense kan ná die pandemie nog minder bekostig om R300 te betaal vir ’n blik melk. Dit is duurder as wat jy sou betaal om kliniek toe te gaan vir hulp!”

Sy verduidelik ook dat jy nie vir ’n baba ’n fopspeen moet gee nie, want aangesien die suigaksie nie gevolg word deur melk nie, sal hy later nie wil borsvoed nie.

“Maar, wat moet sy doen as sy oor ’n paar maande weer gaan werk?” wil Pearl se mamma weet. Trichardt verduidelik dat borsmelk steeds die antwoord is. As sy melk vooraf uitmelk en reël met die oppasser om dit vir Pearl te gee, kan sy steeds borsmelk kry. Dit is belangrik dat die oppasser weet dat jy borsmelk verkies, en dat jou kind nie formulemelk moet kry nie.

Ná net meer as ’n uur is Pearl en haar ma huis toe: Pearl se magie vol, en Mamma baie verlig.

Trichardt en haar span staan uit as ’n span wat waarlik ma’s en kinders se welstand op die hart het, sê Adriane Petersen. Sy is die departement se dieetkundige vir die Kaapse Wynland-distrik en sy wil hê dat ander spanne hulle ook só beywer om borsvoeding ’n prioriteit te maak.

“Trichardt stel werklik ’n voorbeeld. Ek het nog nooit gesien dat personeel doelbewus tyd maak om hierdie ondersteuning aan ma’s te gee nie,” sê sy.

Ma’s wat oorvol of seer borste het, word aangemoedig om warm te stort of warm lappe op hul borste te sit. Dit sal die melk help om te vloei, drukking in jou borste verlig en dit makliker maak vir baba om weer te voed. As jy baie pyn het of sukkel, moet jy so gou as moontlik uitreik vir hulp by jou naaste kliniek.* Skuilnaam

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article