Om misdaad te help bekamp, rapporteer alle misdade.Foto:

Credit: SYSTEM

Bheki Cele, minister van polisie, het onlangs die jongste polisiemisdaadstatis­tieke vir 1 April tot 30 Junie bekend gemaak. Wanneer hierdie kwartaal met dieselfde tydperk verlede jaar vergelyk word, toon die statistieke meer vroue en meer polisiebeamptes is vermoor.

Die beste manier om ’n verskil in die algehele misdaadprentjie te maak en om al die getalle af te bring, is om alle misdaad aan te meld en persoonlik by jou veiligheid betrokke te raak.

“’n Belangrike eerste stap om hierdie misdaadvlakke aan te pak is om seker te maak dat elke voorval by die polisie aangemeld word. Bloot omdat ’n voorval van ’n rooftog of motordiefstal op ’n gemeenskaps-WhatsApp-groep aangemeld word, maak dit nie ’n aangemelde misdaad nie,” sê Charnel Hattingh, hoof van bemarking en kommunikasie by Fidelity Services Group.

“Ja, sosialemedia-platforms is vir baie redes waardevol. As ’n voorval byvoorbeeld plaasvind en geplaas word, help dit om vinnig hulpbronne te mobiliseer om na die oortreders te soek of noodhulp aan te bied, en dit maak die gemeenskap bewus,” sê sy.

“Slagoffers moet egter nie dinge daar laat nie. Hulle moet die voorval by die polisie aanmeld sodat dit as ’n misdaadstatistiek aangeteken kan word.”

Misdaadstatistieke help die polisie om die toepaslike hulpbronne aan voorstede toe te ken, in samewerking met private sekuriteitsmaatskappye en ander belanghebbendes om lewens te beskerm deur misdaad beter te bestuur, neigings te bekamp en die regstelsel toe te rus.

Die belangrikheid hiervan word belemmer deur mense wat dink die misdaad was onbenullig en nie die moeite werd om aan te meld nie.

Sommige mense sê ook hulle het geen vertroue in die regstelsel nie, so “wat is die punt?”

Kleinmisdadigers word iewers later baie dikwels ernstige oortreders – miskien jare nadat hulle weggekom het met sakkerol of winkeldiefstal wat niemand die moeite gedoen het om aan te meld nie.

“Dit is die punt om misdaad aan te meld. Ons beskou geen misdaad of misdadiger as te klein nie en die publiek moet ook nie.

“Misdaad moet aangemeld word sodat misdadigers aangekeer en in die regstelsel hanteer kan word, of ons loop die risiko dat hulle tot ernstiger misdade vorder voordat hulle gevang word.

“Onthou ook dat misdadigers met misdadigers assosieer.

“Die inhegtenisneming van ’n sakkeroller in jou straat kan lei tot ’n veel groter vis vir die polisie of verbind word met ander misdade wat die voorstad geteister het.”

Maar het Suid-Afrikaners te onsensitief geraak om om te gee?

Hattingh sê dit is ’n ongelukkige realiteit dat baie mense gelukkig voel om te lewe en net wil aanbeweeg nadat hulle die slagoffer van ’n misdaad geword het. Trauma is ook dikwels ’n rede waarom slagoffers verkies om nie polisie toe te gaan nie; hulle wil nie die gebeure herleef deur ’n verklaring af te lê nie.

“Ons waardeer dit en sien dit daagliks in ons werk, maar ons moedig steeds mense aan om misdaad aan te meld en die belangrikheid hiervan aan hulle te verduidelik.

“Private sekuriteitsmaatskappye het hulpbronne in plek om kliënte wat slagoffers van misdaad is by te staan met trauma-ondersteuning en deur die proses die misdaad by die polisie aan te meld sodat dit as ’n amptelike misdaadstatistiek aangeteken kan word.”

Onaangemelde misdade het geen waarde vir die polisie of die breër samelewing nie, voeg sy by.

“Geen misdaad is te klein om aangemeld te word nie en elkeen van ons kan ’n rol speel om misdaad in hierdie land te bekamp deur misdaad aan te meld.

“Die enigste waarde wat ’n misdaad het, is dat wanneer dit aangemeld word, dit inligting word vir die polisie en ander veiligheidshulpbronne om te gebruik om misdadigers te beveg en hulle van ons strate af te kry.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article