’n Nuwe dubbelverdiepingkompleks van 3 943 m2 word binnekort langs Checkers by die Mountain Mill Mall in Worcester opgerig.
Die Breedevallei-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur, Julian Kritzinger, het verlede week hierdie aankondiging gemaak.
Hy het gesê hy is dankbaar vir elke belegger wat hier in die Vallei kom belê en kom help werk skep.
Hierdie Millhouse-ontwikkeling sal ’n mooi binnehof hê asook genoegsame parkering op die perseel voorsien.
Die ontwikkeling sal uit vyf besighede bestaan, naamlik:
• Sportsman’s Warehouse;
• Outdoor Warehouse;
• West Pack Leefstyl-winkel;
• Cab Foods; en
• Pet Zone.
Van hierdie verskillende besighede gaan die West Pack Leefstyl-winkel die grootste wees en sal 1 300 m2 beslaan.
Daar word verwag dat hierdie ontwikkeling teen die einde van Januarie of begin Februarie 2024 voltooi sal wees.
En die heel belangrikste is hierdie ontwikkeling gaan sowat 100 nuwe permanente werksgeleenthede in Worcester skep, wat baie goeie nuus is.
“Hierdie opwindende nuwe ontwikkeling beloof om ’n waardevolle toevoeging tot Worcester se ander aanbiedings as ’n streekwinkelsentrum te maak.
“Die groot aantal werksgeleenthede wat dit sal skep, kon nie op ’n beter tyd gekom het nie en almal hier by die Breedevallei-munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling sien baie uit na die opening van die nuwe ontwikkeling,” voeg Kritzinger by.


