Michelle Daames is dankbaar sy kan weer loop.Foto: Enrico Claassen


Vier dae nadat sy haar 18de verjaardag – wat ook haar kroonverjaardag was – gevier het, was sy verlam nadat iemand wat aan haar bekend is, haar met ’n skerp voorwerp in die rug gesteek het.

Vandag is die 27-jarige Michelle Daames van Roodewal in Worcester ’n inspirasie en ’n sprekende voorbeeld van hoop vir menige wat hulle tans in dieselfde bootjie bevind as waarin sy destyds was.

Volgens Daames het haar nagmerrie die aand van 22 Mei 2014 begin toe sy saam met familie en vriende om ’n vuur by haar tante se huis in Roodewal gesit het. Sy was toe in gr. 10.

Sy sê haar aanvaller het later by hulle aangesluit en langs haar kom staan. Volgens haar het sy skielik ’n warm gevoel in haar rug gekry. Haar bene het terselfdertyd lam geword en sy het duiselig gevoel.

Daames sê as dit nie vir haar swaer was nie, het sy vooroor in die vuur geval. Volgens haar het sy hulpeloos en bebloed op die grond gelê.

Sy sê iemand het haar opgetel, in ’n motor gelaai en met haar na die Worcester-hospitaal gejaag.

Daames sê huilend aan Standard sy kon haar ore nie glo toe dokters haar ouers meedeel daar is nie veel hoop vir haar nie en dat hulle hulself moet voorberei om haar te help leer loop.

Sy sê ’n fisioterapeut het haar familie egter verseker daar is hoop.

Volgens Daames het sy ingestem om na ’n hospitaal in Mitchells Plain oorgeplaas te word omdat daar nog hoop was en sy baie graag weer wou loop en dinge vir haarself doen.

“Ek kon myself nie was nie. Ek het die heeltyd net gelê. Ek was verlam.”

Volgens Daames het sy ses maande in Worcester-hospitaal deurgebring.

Sy sê ná ses maande se intensiewe fisioterapie in die Kaapse hospitaal is sy ontslaan. Hierna het sy twee maande in die Hospice in Worcester deurgebring.

Volgens Daames was sy uiteindelik rolstoelgebonde. Sy sê terug by haar ouerhuis in Worcester het Wilmarie Marthinus – ’n vriendin van haar – haar soggens om hul huis laat loop vir oefening.

Daames sê sy kon nie terugkeer skool toe nie omdat sy nie vervoer gehad het nie. Volgens haar het skoolkinders somtyds nagelaat om haar by die huis te kom haal en skool toe te vergesel.

Sy sê dis toe dat sy besluit het om skool te los. “Ek het toe maar by die huis gesit.”

Volgens Daames het sy depressief begin raak. “Ek het baie gehuil. Ek wou nie meer leef nie.”

Sy sê haar familie het haar baie ondersteun. Sy het nooit vir professionele berading gegaan nie. Sy het ook reeds haar aanvaller vergewe en uiteindelik vrede gemaak met dit wat met haar gebeur het.

Volgens haar was sy voor die gru-voorval versot op resies hardloop en ander aktiewe sportsoorte en speletjies.

Sy sê op ’n dag in 2020 het ’n wonderwerk gebeur toe sy uit haar rolstoel opgestaan en probeer loop het. Sy sê dit het sukkel-sukkel gegaan. Sy het al langs die kaste geloop en daaraan vasgehou. Sy sê sy kon voel haar bene raak sterker. “Elke keer het ek ’n treë weg van die kaste af gevat, dan kyk ek of ek dit nie alleen kan doen nie. So het ek aangegaan . . .”

Volgens Daames het haar pa, Joseph, haar op ’n dag meegedeel dat ene past. James Davids van die Ebenaezer Restourasie Bediening van haar toestand verneem het en dat hy haar by die Overvallei-sportklub vir mense met liggaamlik gestremdhede betrokke wil kry. Dié klub fokus op basketbal.

Sy sê sy was aanvanklik baie huiwerig. Volgens haar het sy nietemin later met die klublede begin oefen en kort daarna aangesluit.

Daames sê die sport het haar opnuut hoop gegee – veral toe sy sien sy is nie die enigste een wat gestremd is nie.

Sy vertel met glinsterende oë dat haar betrokkenheid by die klub haar baie geleenthede gebied het soos om onder meer na Durban en Pretoria te vlieg. “Past. James het alles moontlik gemaak.”

Volgens Daames wil sy graag verder gaan studeer sodat sy ’n beter kans kan staan om ’n werk te kry.

“Al loop ek nie normaal nie, is ek tevrede. Wat vir die mens onmoontlik is, is by God moontlik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article