Die plaaslike Skuur-skrywers- en -boekeklub bied Dinsdag 28 Maart weer ’n interessante geleentheid vir bibliofiele in die streek aan.
Die klub hou elke maand ’n interessante boekbespreking in samewerking met die Protea-boekhuis en moes al die venue aanpas om meer besoekers te verwelkom.
Vandeesmaand se skrywer is Michèle Meyer, wat ’n bespreking oor haar debuutroman, Moer, sal lewer. Maraliza van der Berg sal die gesprek lei.
Meyer is ’n skrywer, ’n vrou en ’n ma. Haar kortverhale is al dikwels in die Woordfees se kortverhaalbundels opgeneem, en sy het ook al hierdie kompetisie gewen. Sy is met die bekende politikus en sakeman Roelf Meyer getroud.
Die roman handel oor die aftakeling wat vrou- en ma-wees op gees en lyf kerf. Dit sluit in ’n ongewone, ontgogelde blik op swangerskap, ontdaan van blosende skoonheid, vreedsame afwagting en innige vervulling, eerder gekenmerk deur vrees, angstigheid en ongemak. Die bloedige slagveld van geboorte word ontstellend verwoord, en daarna die allesoorheersende liefde vir die baba, maar ook die onmoontlike gyselaarsituasie van ’n ongelukkige huwelik.
“Om ’n ma te wees, is onmenslik moeilik as jou gees uit jou lyf gevlug het.”
Dit is ook die verhaal van die mooi vriendskap tussen ’n ma en stiefma, en Kylie en Katrin (die hoofkarakters) word mekaar se weemoed.
Die gesprek word Dinsdagaand 28 Maart om 18:00 by die Hugo Naudé-kunssentrum in Tulbaghstraat aangebied. Kaartjies kos R100 en sluit verversings in. Belangstellendes kan Retha Alberts by 082 460 4328 bel.




