Die 2016 FNB Sauvignon Blanc Top Tien is van links agter Francois Marais (FNB), Danie Keulder (Nitida), Kim McFarlane (Hermanuspietersfontein), Joris van Almenkerk (Almenkerk), Stephan Claassen (FNB), Lieza van der Merwe (Merwida), Riandri Visser (Cape Point Vineyards), Miles Mossop (Tokara), Charl Sandenbergh (FNB)

DIE chauvignon blanc van een van die Breedevallei se voorste kelders is aangewys as een van Suid-Afrika se tien top chauvignon blanc-wyne in die 2016 FNB Top Tien wat op 14 Oktober aangewys is.

Merwida-wynkelder se 2016 Sauvignon Blanc het met dié eer weggestap.

Dit is die enigste sauvignon blanc uit die Vallei wat vanjaar in die kompetisie onder die top tien geëindig het.

Vanjaar se Top 10 wyne, in alfabetiese volgorde, is:

  • Almenkerk Sauvignon Blanc 2015
  • Cape Point Vineyards Sauvignon Blanc 2015 (gehout)
  • De Grendel Sauvignon Blanc 2016
  • Hermanuspietersfontein Nr 5 Sauvignon Blanc 2013 (gehout)
  • Jordan The Outlier Sauvignon Blanc 2015 (gehout)
  • Ken Forrester Sauvignon Blanc Reserve 2015
  • Merwida Sauvignon Blanc 2016
  • Nitida Golden Orb Sauvignon Blanc 2015
  • Tokara Reserve Collection Elgin Sauvignon Blanc 2016
  • Uitkyk Sauvignon Blanc 2015

Die kompetisie, aangebied deur die Sauvignon Blanc Belangegroep van Suid-Afrika (SBIG) met FNB as borg sedert 2007, is die land se voorste platform vir produsente van hierdie edelkultivar om hul wyne te vertoon en aan die bedryfstandaard te meet.

Stephan Claassen, Provinsiale Hoof FNB Besigheid Wes- en Oos-Kaap, het die 2016 FNB Sauvignon Blanc Top 10-wenners, wat met hul uitsonderlike wynmaakvaardighede en talent in hierdie strawwe kompetisie uitgeblink het, gelukgewens.

“Elke jaar, erken en vier ons uitnemendheid in die geledere van plaaslike produsente wat ure der ure daaraan wy om hul kuns te vervolmaak. Welgedaan aan al die wenners wat onverpoos daarna streef om te verseker dat ons plaaslik vervaardigde sauvignon blanc kultivar internasionaal vereer word vir die hoë gehalte en standaarde daarvan,” het Claassen bygevoeg.

’n Formidabele span beoordelaars, wat verskillende fasette van die bedryf verteenwoordig, het die uitdagende taak gehad om 169 inskrywings te evalueer en die sauvignon blanc-aanspraakmakers uit te dun tot ’n skrale 10 wyne wat ware finesse en eiesoortigheid uitgestraal het.

Neil Ellis, ervare wynmaker en eienaar van die familie-onderneming met dieselfde naam, was die voorsitter van die Top 10-jurie wat die wynjoernalis, Christiaan Eedes, wynmakers Wilhelm Pienaar en Narina Cloete, ingesluit het, asook die Kaapse Wynmeester, Winne Bowman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article