By die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) het ons die jaar met nuwe energie begin en is ons opgewonde oor alles wat vir die jaar beplan word.

So baie dinge moes noodgedwonge die afgelope twee jaar verander, maar soveel positiewe energie het deur hierdie moeilike tyd losgekom dat ons besluit het ons tema vir die nuwe jaar is “Verandering vir Verbetering”

Verandering is onvermydelik, maar ons wil nie net veranderinge aanbring omdat ons verplig word nie. Ons mik daarna om met elke verandering ook ’n verbetering aan te bring.

“Wat verbeter ons? Ons wil ons impak op ons begunstigdes verbeter – beter versorging en beter toeganklikheid vir almal wat met gehoorverlies lewe – ’n beter lewe vir elke Dowe; ’n lewe met al die voorregte wat ons as horendes as vanselfsprekend aanvaar.

Ons vertrou dat al ons getroue ondersteuners ons sal help in ons strewe na hierdie volgehoue verbetering ten bate van ons begunstigdes, sodat ons die lewe vir hulle makliker kan maak en hulle kan help om hul volle potensiaal te verwesenlik.

Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) vier 141 jaar diens aan Dowes en mense met gehoorverlies deur verskeie van sy departemente, elk met sy onderskeie fokuspunt.

Vanjaar se tema by NID is “Verandering vir Verbetering”. Ná deeglike oorweging en talle besprekings het ons ’n klein verandering vir ’n groot verbetering aangebring.

Die NID- geïntegreerde steundienste-afdeling werk aan verskeie projekte: ’n -videowoordeboek vir die Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT), ’n geakkrediteerde SAGT-aanlyn kursus, ’n geletterdheidsprojek vir Dowe kinders en ’n sertifiseringsproses vir SAGT-tolke.

Al hierdie projekte is aan SAGT gekoppel. Met hierdie besef is ons opgewonde om aan te kondig dat die naam van hierdie departement verander na die “NID-gebaretaalsentrum”.

Die NID-gebaretaalsentrum bedien die Dowe en horende gemeenskappe deur inhoud te ontwikkel en navorsing in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) te doen. Die doel van hierdie departement is om die lewe van Dowe Suid-Afrikaners te verbeter deur hulpbronne te skep sodat enigiemand SAGT kan leer.

Ons sien uit na die reis wat voorlê. Vir enige SAGT- verwante navrae, stuur e-pos na learnsasl@nid.org.za .

* Cobus van Deventer is NID se hoof uitvoerende beampte. 

Kleurryke pretdraf en -stap
Die NID Colour Run 4km-pretdraf/stap word Saterdag 2 April om 09:00 by Worcester-museum op Kleinplasie aangebied.
Die wedloop dien as geldinsameling ten bate van Dowes en mense met gehoorverlies by die NID.
Koste beloop R50 per deelnemer. Verskeie gelukkige trekkings sal gehou word en stalletjies sal beskikbaar wees.
Stuur e-pos na run4deaf@nid.org.za of kontak 023 342 5555 vir enige navrae.
Kom geniet hierdie kleurvolle oggend saam met ons!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article