’n Negejarige meisie is verlede week ernstig in ’n motorongeluk beseer en het later aan haar beserings beswyk.
Johané Botha het saam met haar ma, Risella Botha, in ’n motor gery toe dit teen ’n boot wat op ’n sleepwa voor hulle was, gebots het. Die Botha-gesin was onderweg na Kaapstad, waarheen hulle verhuis het.
Johané het ten tyde van die ongeluk saam met haar ma gery, terwyl haar pa, Johan, en haar jonger suster in die Volkswagen Caddy voor hulle gery het. Die sleepwa met die boot was aan die Caddy gehaak.
Volgens inligting het die ongeluk net ná Touwsrivier, in die rigting van De Doorns, by ’n stop-en-ry gebeur waar padwerk aan die gang is.
Die motor waarin Johané was, het teen die sleepwa gebots en die boot se skroef het haar teen haar kop getref.
Johané en haar ma, Risella, moes deur nooddienswerkers uit die wrak gesny word voor hulle na ’n hospitaal geneem is.
“Die Touwsrivier-polisie het ’n saak van strafbare manslag geopen ná ’n voorval Woensdag 28 Julie omstreeks 17:10 op die N1 naby . . . Touwsrivier, waar ’n negejarige meisie beseer is.
“Volgens berigte is die meisie beseer deur die skroef van ’n boot wat deur die voorruit van ’n voertuig gegaan en haar teen die kop getref het.
“Sy het ’n ernstige kopbesering opgedoen en is per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem. Sy is later dood weens die beserings wat sy opgedoen het,” het kaptein F.C. van Wyk, ’n woordvoerder van die provinsiale polisie, gesê. “Johané was die besonderste dogtertjie. Sy was liefdevol, behulpsaam, vriendelik en vol lewe. Sy het soveel omgegee vir almal en altyd ’n trooswoordjie gehad as ’n mens nie lekker gevoel het nie,” het Johan se suster, Naomi Lourens, aan Netwerk24 gesê.




