Een van Worcester se mees geliefde oud-onderwysers en ‘n gemeenskapsmens par excellence is verlede Donderdag (3 Julie) in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad aan ‘n hartaanval oorlede nadat hy net 12 dae tevore daar opgeneem is.
Oom John Heradien, of “Meester Johnnie”, soos hy by almal bekend was, is kort voor sy 92ste verjaardag oorlede. Hy was die naasoudste van nege kinders, van wie net sy twee jonger broers, Denovan en dr. Marshall Heradien, ‘n bekende kardioloog, nog lewe.
Meester Johnnie, ‘n gebore en getoë Worcesteriet, het sy laerskoolopleiding aan die bekende NGK Oefenskool ontvang. Daarna is hy na die Söhnge-opleidingskool en het aan die Hoërskool Luckhoff in Stellenbosch gematrikuleer. Hy het sy tersiêre opleiding aan die Hewat-opleidingskollege, wat destyds nog in Roelandstraat geleë was, voltooi.
Sy loopbaan as onderwyser het by Söhnge-kollege begin, waar hy Afrikaans vir aspirant-onderwysers gedoseer het. Daarna het hy by die Hoërskool Esselenpark skoolgehou, toe vir ‘n ruk by die Hoërskool Noorder Paarl, later weer teruggekeer na Söhnge en uiteindelik in 1994 by die Hoërskool Breërivier as onderwyser afgetree.
Meester Johnnie is in 1964 met Mumtaz getroud – ‘n nooi Ahmed. Uit die huwelik van bykans 61 jaar is twee dogters, Shireen en Nazley, gebore. Hy was ook die trotse oupa van drie kleinkinders en oupa van ‘n agterkleinkind. Hy was in sy onderwysloopbaan aktief by die administrasie van veral skolesport betrokke en was etlike jare president van die Boland-sportraad, waarvoor hy in 2012 vir sy uitsonderlike bydrae om skolesport in die Boland tot sy volle reg te laat kom, vereer is. Hy was ook vir jare die kassier van die Sonnestraal-kleuterskool.
Hy het ‘n groot bydrae as gemeenskapsmens gelewer. Sy oud-kollegas vertel hoe hy dikwels met sy eie geld na behoeftige kinders omgesien het wat in provinsiale spanne opgeneem is, maar nie die geld gehad het om hul drome te verwesenlik nie.
Aangesien hy ook ‘n betroubare vragmotor gehad het, was hy destyds veral onder sportlui in aanvraag vir vervoer buite die dorp vir sportbyeenkomste. Hy het later selfs ‘n bus aangeskaf om dit vir sportspanne nog geriefliker te maak.
Om alles te kroon het hy tot sy 82ste verjaardag deeltyds by Abet, die inrigting vir volwasse onderrig in Worcester, klasgegee.
• Meester Johnnie word hierdie Saterdag (12 Julie) om 09:30 vanuit die NG Moederkerk in Kerkstraat begrawe. Besigtiging is van 09:00 en ‘n private verassing vind ná die diens plaas. – Alver Uys






