Inwoners van beide Touwsrivier en Rawsonville kan nou daarna uitsien om die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se verkeersdienste in hul eie dorpe te kan benut.
Die nasionale verkeersdepartement se stelsel, eNATIS, is ’n stelsel wat alle inligting vir dienste soos verkeersboetes, motorlisensies en rybewyse bestuur. Hierdie stelsel is nou vir die eerste keer by die munisipale kantore in beide Rawsonville en Touwsrivier beskikbaar.
“Onlangs het die adjunk-burgemeester, Juben von Willingh, die eNATIS-stelsel amptelik in hierdie twee dorpe bekend gestel.
“Om die proses te begin, sal motorvoertuiglisensies nou by die BVM-kantore in Touwsrivier en Rawsonville hernu kan word. Verdere eNATIS-dienste sal binnekort beskikbaar wees. Wees op die uitkyk vir kennisgewings in hierdie verband,” het die burgemeester, Antoinette Steyn, gesê.
Inwoners van beide dorpe vra al jare vir hierdie diens in hul gemeenskappe.
Nadat hierdie nuus op sosiale media gedeel is, het inwoners omtrent hul blydskap uitgespreek.
“Hierdie gaan ons lewe vergemaklik. Ons moes elke keer uit Touwsrivier na Worcester ry om dié dienste te kon benut. Nou kan ons tyd en geld spaar, asook ons dienste geniet. Ons is dankbaar,” skryf Martin Kraai.
Sandra Fredericks van Rawsonville skryf: “Hoogtyd. Dit is amper verregaande om te dink hierdie diens is nou eers beskikbaar. Ons is verheug oor hierdie nuus en glo dat inwoners (soos ek) dit baie waardeer.”
Die eNATIS-stelsel bevat registers van die volgende:
- Motorvoertuie;
- Voertuigvervaardigers, invoerders en bouers;
- Motorhandelnommers;
- Tydelike en spesiale permitte;
- Operateurs;
- Rybewyse en professionele bestuurspermitte;
- Infrastruktuur: gemagtigde beamptes, instrukteurs, rybewys-toetssentrums, voertuig-toetssentrums, ondersoekers van voertuie en ondersoekers van rybewyse;
- Ongelukke;
- Oortredings; en
- Padwaardigheid.





