Die ou gunstelinge is steeds op die spyskaart, maar met heerlike nuwe kinkels.
Wanneer gaste aansit by De Breede Restaurant in Worcester, is dít wat hulle kan verwag.
Dit is danksy ’n groot spyskaartvernuwing deur sjef Craig Chatterton en sous-sjef Edwill Wehr wat pas by die Protea Hotel by Marriott Worcester Cumberland se restaurantspan aangesluit het.
Hul aanstelling is deel van ’n splinternuwe baadjie vir die 90-sitplek-restaurant: ’n nuwe naam, stylvolle nuwe blou-en-wit dekor en ’n meer moderne aanslag in die kombuis.
Vergeet van gewone koningklip met ’n standaardbygereg. Verwag oondgeroosterde koningklip op ertjiepuree met pangebraaide sampioene, patatfondant en blitsgebraaide groente. Vergeet van gebraaide hoender en groente en bestel ’n gevulde hoenderborsie met pesto, mozzarella en pikantrissies bo-op tamatiesalsa-tagliatelle. Steak, garnale, fynproewerburgers, pizza en iets vir die kinders: die staatmakers is natuurlik ook daar!
“Ek het na die spyskaart gekyk en alles meer kleurvol gemaak en smaaklik laat lyk om tred te hou met die jongste kostendense, sonder om ons gereelde gaste te vervreem,” sê Craig.
Hy bring jare lange ondervinding met hom saam: ’n sjef-kwalifikasie wat hy gekry het terwyl hy by die Protea-groep gewerk het, ’n vakleerlingskap van drie jaar, ’n pos as sous-sjef by die Ritz Hotel in Kaapstad, daarna by die President Hotel en daarna tien jaar ondervinding as sjef by Rheebokskloof.
Edwill, sy regterhand, het as kombuishand begin toe hy 16 jaar oud was en het van daar af die suksesleer geklim tot in die kombuise van die Cape Sun International Hotel, Rheebokskloof, Pearl Valley en Orion Hotels.
Saam sal die manne Egidio Cardoso se visie vir ’n meer moderne restaurant – maar steeds ultragewild – ’n werklikheid maak.
“Ons wil die heel beste voorsit,” sê Egidio, eienaar van die Protea Hotel by Marriott Worcester Cumberland. “Ons is al hier sedert 1970 en as ons vir ons gaste, wat ons soveel jaar getrou ondersteun, die heel beste gehalte kos en diens wil gee, moet ons bybly met die tendense van die tyd.”
Egidio noem die Cumberland ’n “hotel vir almal” waar daar ’n plan gemaak word vir vegetariërs, diabete, mense wat laekoolhidraat-diëte volg en enigiemand anders met spesiale dieetvereistes.
“Mense kom hierheen omdat hulle iets wil geniet – iets ánders en iets lekkers. En daarom put ons ongelooflike plesier daaruit om élkeen van ons gaste tevrede te stel.”
Egidio nooi mense om elke dag van 12:00 af middagete te kom geniet, of aandete tot 22:00 (Sondae tot 21:00). Die gewilde Sondag-middagetes, asook banket-etes, gaan ook voort soos altyd.
Vir meer inligting en besprekings, skakel 023 347 2641.



