Die seëvierende Touwpark RVK-span wat die Sanlam-Boland-rugbyunie se Streekuitdaag-trofee huis toe gebring het.Foto:


Touwpark RVK van Touwsrivier het op Saterdag 23 November McGregor RVK in ’n volgepakte Sanlam-Boland-stadion in Wellington goed pak gegee om te bepaal wie die Sanlam-Boland-rugbyunie se streekuitdaagkampioen gaan wees.

McGregor het uit die staanspoor die pap dik aangemaak en vroeg agter Touwpark se doellyn gaan kuier. Touwpark het sy sokkies vinnig opgetrek en verwoed aangeval (met halftyd was hy goed voor met 27-13).

Met die begin van die tweede helfte het Touwpark die verwoestende bui voortgesit en weer agter die pale gaan kuier. Die telling het na 34-13 in Touwpark se guns opgeskuif.

Dit het gelyk asof McGregor geen woorde vir Touwpark se aanslag had nie, want McGregor het nie geweet wat om met die bal te doen nie.

Touwpark se telling het tot 46-13 gestyg en dit het gelyk asof Touwpark sy voet van die pedale af gehaal het, want McGregor het teruggeveg en was self in ’n verwoestende bui.

McGregor het met twee laat drieë die Touwpark-krygers laat asem ophou. Die wedstryd het egter met die telling op 46-32 in Touwpark se guns geëindig.

Dit was ’n baie goeie wedstryd wat enige kant toe kon geswaai het, maar die Touwpark-krygers het kalm gebly en verseker dat hulle hierdie jaar onoorwonne eindig met 24 uit 24 in die 2024-seisoen.

Touwpark het sy 2024-veldtog in die Streekuitdaag-kompetisie met durf en moed begin deur al sy wedstryde te wen.

Die Sanlam-Boland-rugbyunie se Streekuitdaag-trofee staan dus welverdiend in Touwpark RVK se bekerkas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article