Ná die swaar reën van 24 tot 26 September het McGregor die nagevolge in die gesig gestaar, wat groot vloedskade en ’n ineengestorte gedeelte van die toegangspad na Robertson ingesluit het.
Inwoners en besoekers was weens die oorstroming van alternatiewe grondpaaie in die dorp vasgekeer.
McGregor-huishoudings het ook begin om oorstromings, sterk wind en kragonderbrekings by Langeberg-munisipaliteit se 24/7-inbelsentrum aan te meld namate die dag gevorder het. Ten spyte van die uitdagings van die weer het die munisipaliteit se toegewyde elektriese span onvermoeid gewerk om die kragtoevoer so gou as moontlik te herstel.
Kommer het by McGregor-inwoners ontstaan dat hul kosvoorraad min raak. Rampbestuur kon saam met sleutelrolspelers op 26 September noodsaaklike artikels vir ’n geskatte 80 mense in die Takkup Plaas-omgewing aflaai.
Die munisipaliteit het op 3 Oktober saam met Gift of the Givers, Capitec Bank, Rampbestuur van die Wes-Kaapse regering, die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), en Soek en Redding Suid-Afrika, hulp aan McGregor gelewer.
Goedere soos kospakkies, gebottelde water en komberse is aan behoeftiges in en om McGregor uitgedeel.
Die pakkies kon by McGregor afgelewer word via die Boesmansrivier-roete, ’n grondpad tussen McGregor en die R317 Stormsvlei, wat nou veilig is om deur alle voertuie gebruik te word nadat gate gevul en sandsakke gepak is.
Munisipale afval- en rioolverwyderingsdienste sal nou soos gewoonlik kan voortgaan deur hierdie pad te gebruik om toegang tot McGregor te verkry.
Schalk Van Eeden, die burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit, het sy simpatie betuig met almal wat deur die storm se verskriklike verwoesting geraak is.
“Ek wil my dankbaarheid uitspreek teenoor almal wat in hierdie moeilike tyd hulp gebied het.
“Spesiale dank aan die lede van ons gemeenskap wat hul huise oopgemaak het om skuiling te bied, sowel as die toeriste-inligtingsentrums, kerke, SAPD, buurtwagte en ander nie-regeringsorganisasies wat ons gemeenskappe veilig en ingelig gehou het.”
Hy het verder gesê: “Dankie ook aan ons raads- en wykskomiteelede, wat terugvoering gegee het oor die behoeftes van die gemeenskap, sowel as ons munisipale administrasie-personeel, wat seker gemaak het dat dienslewering so ver moontlik voortduur.”
Van Eeden het ook die ondersteuning beklemtoon wat van die distriks- en provinsiale regering ontvang is met opruimoperasies en die huidige herstel van die padinfrastruktuur.
Die ineengestorte Keisersrivierbrug se heropbou is tans aan die gang en die brug sal na raming voor die einde van Oktober heropen word. Die publiek word aangeraai om weg te bly van die konstruksieterrein, aangesien dit onnodige vertragings sal veroorsaak.
“Ondanks die storm se verwoestende skade het ek ’n verblydende eenheid onder ons inwoners en die regerings- en private sektor gesien, wat getoon het ons kan saamwerk en uitdagings oorkom.”. Individue of organisasies wat noodsaaklike goedere aan huishoudings wil skenk, kan die Langeberg-munisipaliteit se Rampbestuursafdeling kontak by nmdluli@langeberg.gov.za of 023 492 0093.





