Standard gesels met Claude Pretorius oor Wolseley se Ramkiekie-plaasmark
Wanneer het die mark begin? Die mark het Augustus 2013 begin. Ek het terug Wolseley toe getrek in Februarie 2013. Met ’n besoek aan ons plaaslike winkel het ek myself voor die groenterak bevind en besef hier gaan ek omkom van die honger, omdat die groente lyk of dit van die vorige oes af kom. Ek het besef dat ons ’n plaasmark nodig het. Vandaar die ontstaan van Ramkiekie. Ramkiekie is ook ’n gemeenskaplike bymekaarkomplek vir ieder en elk, dit maak nie saak in watter skool, kerk of area jy woon nie, almal is welkom.
Hoe gereeld word dit gehou? Die plaasmark word elke tweede Saterdag van die maand gehou. Die volgende mark is 8 Oktober.
Waar word dit gehou? Dit word by Mountain Ridge-wynkelder gehou. Mountain Ridge is op die De Liefde-pad, so 8 km uit Wolseley in die rigting Worcester geleë. Die gaste kan ’n uitstappie van die dag maak en onder die bome met ’n glasie wyn die musiek en geselskap van vriende geniet!
Wat kan mense alles daar aantref? By die stalletjiegedeelte het ons baie mooi handgemaakte produkte, baie billike leerprodukte, serpe en krale om ’n paar te noem. Aan die koskant is daar vars groente en vrugte asook vleis, brode, beskuit en koekies wat mens huis toe kan neem en dan is daar verskeie klaar kosse, soos pannekoek, roosterkoeke, pasteie, aartappelstokkies en droëvrugte wat mens by die mark kan eet.
Die Mountain Ridge-wynkelder proelokaal is oop vir wynproe en wynverkope en daar is ’n kontantkroeg vir diegene wat nie so groot op wyn is nie. Die kinders kan kom sandkuns doen, spookasem eet en heerlik buite in die speelpark baljaar. Daar is ook n kunstenaar wat die gaste by elke mark vermaak.
Watter aktiwiteite is daar te doene? Ons probeer altyd een of ander aktiwiteit saam met die mark doen. Die Oktober-mark se tema is Bierfees waar ons “craft”-biere van verskillende “crafters” af gaan verkoop en in November speel die mark eindpunt vir die Breërivier-boerevereniging se jaarlikse 4×4-rally. In seisoentyd trap ons druiwe, ander maande is daar weer ’n potjiekoskompetisie of die Wolseley MTB in Augustus, ’n damesbraaikompetisie in braaimaand en vele meer.
Is daar iets unieks aan die mark wat anders is as ander markte wat julle dalk wil uitlig? Behalwe vir die temas wat ons aan elke mark koppel maak Leonard Droomer en sy span elke mark ’n spesiale middagete wat baie gesog is en met komplimente deur die gaste opgeraap word. Ons gee dan ’n gedeelte van die wins van die middagetes aan een of ander plaaslike liefdadigheidsorganisasie.




