Luyanda Mboniswa wat gevonnis was tot lewenslange tronkstraf vir die moord op Marike de Klerk, voormalige eggenoot van oudpres. FW de Klerk, word op 30 Augustus op parool vrygelaat.
Candice van Reenen, Wes-Kaapse woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het dit bevestig.
Mboniswa is twee keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord, roof met verswarende omstandighede, asook huisroof waarvoor hy ook drie jaar gevonnis is. Hy was sedertdien in die Worcester-gevangenis waar hy dié vonnis uitgedien het.
Hy het De Klerk in haar woonstel in die Dolphin Beach-woonstelle in Table View waar hy as ’n sekuriteitswag gewerk het, met ’n mes gesteek en verwurg. Hy is op 15 Mei 2003 gevonnis.
Mboniswa het dus reeds oor die 20 jaar in gevangenskap deurgebring en het in aanmerking gekom vir parool wat die paroolraad goedgekeur het.
“In ooreenstemming met die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998, was Mboniswa vir parool oorweeg nadat hy die minimum vereiste tyd uitgedien het. Die paroolplasingsproses het begin vanaf die voorbereiding van die profiel deur die gevallebestuurskomitee en oorweging deur die Korrektiewe Toesig- en Paroolraad (KTPR),” sê van Reenen.
Sy het ook in die mediaverklaring aan Standard genoem dat Mboniswa in die stelsel van gemeenskapskorreksies toegelaat sal word, maar dat daar van hom sal verwag word om spesifieke paroolvoorwaardes na te kom vir die res van sy lewe.
’n Moniteringsbeampte sal aangewys word om seker te maak dat hy sy paroolvoorwaardes nakom, het Van Reenen verduidelik.
“Normale paroolvoorwaardes sal geld, soos om beperk te wees tot die distrik waarin hy bly. Hy mag ook nie kontak met die familie van die slagoffer hê nie, en mag ook nie sy woonadres verander sonder om die moniteringsbeampte in kennis te stel nie.”
“Paroolplasings vorm deel van [Suid-Afrika se] totale rehabilitasieprogram om die regstelling van die gevangene se gedrag aan te moedig, en kan die voortsetting van die programme in die korrektiewe gemeenskapstelsel insluit,” sê van Reenen.
Standard het uitgereik na die FW de Klerk-stigting, maar dié het gesê dat die stigting “geen kommentaar op sy [Mboniswa] se vrylating het nie”.





