Manic Cycles se wenspan wat elk van hul klante op die hande dra. Heel links staan eienaar Francois Esterhuizen. Foto: RICK MARAIS


Manic Cycles, die fietswinkel wat werklik omgee vir al sy klante, vier vanjaar sy 10de verjaardag op sy nuwe perseel by Hoogstraat 140A.

Francois Esterhuizen, eienaar van Manic Cycles, vertel dat hy sy stokperdjie sy werk gemaak het en dat dít is hoe die fietswinkel op 1 Desember 2006 sy deure oopgemaak het.

“Ek het tot op semiprofessionele vlak fiets gery. In ’n stadium kom ek toe agter die dorp kort ’n fietswinkel vir meer ernstige fietsryers,” sê Esterhuizen.

Nie net sien Manic Cycles om na die ervare fietsryers nie, hy sorg ook vir beginners – oud én jonk.

Manic Cycles verkoop fietsreekse soos Cannondale, Mongoose, Momsen, GT, Merida en Titan. “Wat ons verder uniek maak, is dat Manic Cycles die grootste verkoper van tandemfietse in die land is. Ons voer dié soort fietse uit na lande soos Kenia en Mauritius. Die tandems word gemaak onder die handelsname Fandango en Ventana, wat ons direk invoer vanuit die VSA,” vertel Esterhuizen trots.

Nie net is hy baie betrokke by fietsry nie, maar hy help ook die Worcester Wheelers-fietsryklub om te groei deur jong talent in die omgewing te ontwikkel.

Manic Cycles het tans vier voltydse personeellede. Christopher Malgas werk al nege jaar by Manic Cycles. Hy is verantwoordelik vir die versiening van fietse.

“Hier by Manic Cycles is ons nog klein genoeg dat ons kan omgee vir elke klant wat hier inloop. Hier maak ons alles reg, van ’n pap band tot die versiening van pad- en bergfietse. Wat ook al jou fiets benodig, ons kan jou daarmee help.”

Deur harde werk en met passie wil Manic Cycles nog ’n hele ruk in Worcester sake doen en klante tevrede stel. Besoek hulle by Hoogstraat 140A.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article