Ses mense is Maandag in Van Huyssteenlaan deur ’n dronkbestuurder omgery.
Die voorval het om 16:00 gebeur terwyl mense glo vir straatrenne vergader het.
Volgens ’n Worcesterse polisiewoordvoerder, AO Vathiswa Jacobs, wou die bestuurder van die voertuig, ’n Jeep Cherokee, gaan parkeer toe hy deur omstanders geploeg het. Niemand is noodlottig beseer nie.
“Volgens die bestuurder wou hy die voertuig gaan parkeer toe hy skielik sy bewussyn verloor het. Hy het ses mense omgery en ook teen etlike ander voertuie vasgery.”
Vier van die slagoffers is minderjarig – 7 en 16 jaar oud – en twee is 18 en 19, terwyl die vyfde slagoffer 27 jaar oud is. Die sesde slagoffer se ouderdom is onbekend.
“Dit lyk asof nog mense na vore gaan kom wat in die voorval raakgery is. Dit was deurmekaar op die toneel en polisiebeamptes wat op die voorval gereageer het, het ook die bestuurders van die voertuie wat getref is, gevra om na die polisiekantoor te gaan om klagtes teen die bestuurder van die voertuig aan te meld,” het Jacobs gesê.
Die verdagte is kort ná die voorval op die toneel in hegtenis geneem en na die hospitaal geneem sodat sy bloedalkoholvlak getoets kon word.
Dit was blykbaar nie eens sy motor wat hy ten tyde van die voorval bestuur het nie – dit is glo sy broer se voertuig.
Verskeie mense het hul misnoeë oor die voorval in die kommentaarafdeling van ’n Facebook-inskrywing uitgespreek.
Van hulle is familielede van diegene wat raakgery is wat onder meer gesê het sommige slagoffers moet nog vir X-strale en operasies gaan weens die beserings wat hulle Maandag opgedoen het.
Die bestuurder word deur twee aanklagte in die gesig gestaar – ’n aanklag van roekelose en nalatige bestuur en een van dronkbestuur.
Hy het Dinsdag die eerste keer in die Worcester-landdroshof verskyn.



