Kieran Swanepoel (links) en sy ma, Henoré. Foto Enrico Claassen
Kieran Swanepoel (links) en sy ma, Henoré. Foto Enrico Claassen

‘n Ma van Worcester wie se agtjarige Downsindroom-seun ernstig beseer is toe ‘n man hom met ‘n gholfstok deur ‘n venster op sy voorkop geslaan het, sê haar seun se aanvaller se straf moes swaarder gewees het.

Die streeklanddros Abigail Juries het Liam Meyer (27) van Riverview, ‘n pa van twee minderjarige kinders, verlede Dinsdag (5 Augustus) nege jaar tronk toe gestuur op ‘n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Meyer se vonnis volg nadat hy op die klag skuld beken en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Kieran Swanepoel (11) van Söhngelaan in Worcester was ten tyde van die voorval ‘n leerder by die Breedevallei Vereniging vir Kinders met Gestremdhede.

Op die dag van die voorval (21 April 2022, ‘n dag ná sy agtste verjaarsdag) het die skool se busbestuurder Kieran opgelaai om hom skool toe te neem.

Kieran het agter die bestuurder by die venster gesit toe Meyer dié betrokke ruit met ‘n gholfstok stukkend geslaan het. Kieran se kop was so erg beseer dat sy skedel sigbaar was.

Meyer het in sy pleitooreenkoms erken dat hy op die dag van die voorval in Jassonstraat, Riverview, was en ‘n gholfstok in sy besit gehad het.

Volgens hom het hy ‘n voertuig met passasiers in sy rigting aangery sien kom. Hy het die gholfstok in die rigting van die voertuig geswaai omdat hy die bestuurder en passasiers wou skrikmaak.

Volgens hom het hy die ruit van die voertuig met die gholfstok stukkend geslaan.

Meyer het ook bevestig dat Kieran ten tyde van die voorval met sy kop teen die venster gesit het en toe hy die venster met die gholfstok stukkend slaan, het die voorwerp Kieran se kop getref.

Hy het voorts erken dat hy voorsien het dat die klaer ernstige beserings sou kon opdoen. Meyer het hom nietemin met daardie moontlikheid versoen en die venster stukkend geslaan.

Hy het ook gesê hy het bedoel om die seun ernstig te beseer en het ten alle relevante tye geweet dit wat hy besig was om te doen, onwettig was en strafbaar deur ‘n hof is.

Kieran se ma, Henoré Swanepoel (42), het ná die vonnisoplegging aan Standard Breederivier Gazette gesê sy voel Meyer moes ten minste 15 jaar tronkstraf gekry het omdat haar seun se beserings soveel erger kon gewees het.

“Kieran was maar net gelukkig. Hy het herstel van die bloeding op die brein wat hy opgedoen het. Dit [bloeding op die brein] het hom gelukkig nie so erg benadeel nie.”

Volgens Henoré gil Kieran ná die voorval nog steeds en is hy baie skrikkerig wanneer hy byvoorbeeld ‘n harde geluid hoor of glas hoor breek. Sy sê haar seun het ná die voorval sielkundige berading gekry.

• In ‘n afsonderlike saak is Meyer twee jaar tronk toe gestuur nadat hy Hilwin Matolla (21) op 8 Julie 2022 van agter in sy regterskouer gesteek het. Hy het ná die voorval weggehardloop. Dié voorval het in Sampsonstraat, Riverview, plaasgevind.

In nog ‘n voorval is Meyer tronkstraf van agt jaar, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is, opgelê nadat hy Adrian Visagie (30) in die regterarm en linkerbeen geskiet het.

Op die klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen is hy vyf jaar tronkstraf opgelê en ‘n verdere 12 maande vir die onwettige besit van ammunisie.

Dié skietvoorval het op 23 Augustus 2020 in Riverview plaasgevind.

Op die tweede klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie het Meyer ook skuldig gepleit en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Die hof het gelas dat al die vonnisse samelopend uitgedien word. Meyer sal dus nege jaar agter tralies deurbring.

Amisha Ratanjie het aangekla. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article