Leano Pekeur, wat Sondag 15 Junie in die Worcester-polisie se aanhoudingselle dood aangetref is, het voor sy dood herhaalde dreigemente ontvang.
‘n Hartseer Lilian Jama, sy ma, het aan Standard Breederivier Gazette gesê nadat hy in 2023 ‘n ooggetuie in ‘n moord was, is hy met die dood gedreig. Hy het telkemale die polisie geskakel, wat hom tuis kom haal het vir bewaking. Die familie was onder die indruk dat dit weer die geval was toe ‘n polisievoertuig Pekeur die Vrydag voor sy dood kom oplaai het. Hy het nooit met hulle gepraat oor die moord wat hy gesien het nie. Sy familie het hom die afgelope naweek ter ruste gelê. “Ons is dankbaar vir die groot ondersteuning wat ons in hierdie moeilike tyd van die gemeenskap gekry het,” het Jama gesê.
Die 37-jarige Pekeur is net ná 02:00 die Sondagoggend dood in die selle gevind nadat ‘n ander aangehoudene hom op die grond sien lê het. Volgens AO Vathiswa Jacobs, ‘n woordvoerder vir die Worcester-polisie, het hy twee snywonde aan sy nek gehad. ‘n Klein lemmetjie het langs hom gelê.
Die saak is aan die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) oorhandig, wat verder ondersoek instel. Phaladi Shuping van Opod het Dinsdag (1 Julie) bevestig dat hulle steeds besig is met die ondersoek.
“Dit was vir ons ‘n groot skok om in die koerant te lees dat hy in hegtenis geneem is. Die polisie het nooit vir ons enigsins daarvan gesê nie. ‘n Polisieman wat ons geken het, het ons kom vertel dat Leano in die selle dood is,” het Jama gesê. “As hy in gevaar was, hoekom het hulle hom in ‘n sel saam met vier ander mense aangehou?” het sy gevra.
AO Jacobs het bevestig dat Pekeur in hegtenis geneem is in verband met ‘n moord in 2023.
Kapt. Frederick van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het verlede week gesê die ondersoek is op ‘n sensitiewe punt en die polisie soek na nog ‘n verdagte.
Pekeur sou Dinsdag 17 Junie in die hof verskyn het.




