’n Man van Worcester is op aanklag van verkragting in hegtenis geneem.Foto:


’n Verdagte is Maandagmiddag (2 Desember) in hegtenis geneem op aanklagte van verkragting en roof nadat hy na bewering ’n 40-jarige vrou van OVD in Worcester Sondag (1 Desember) in die vroeë oggendure in Buitekantstraat, Esselenpark, verkrag het.

Die vermeende verkragter is glo bekend aan die vrou.

Die aanval op die vrou was terwyl die veldtog vir 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teenoor Vroue en Kinders tans oor die land heen plaasvind.

AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die vrou was omstreeks 05:00 te voet op pad terug huis toe nadat sy vroeër vriende besoek het.

By die verkeerslig by die Grey-/Buitekantstraat-kruising, het sy ’n man gewaar wat voor haar geloop het. Hy was onder meer geklee in ’n rooi baadjie en het rooi plakkies aangehad.

Volgens Jacobs het die vrou vinniger begin loop toe sy skielik ’n bottel hoor breek. Sy sê die onbekende man het die vrou glo gegryp, ’n gebreekte bottelnek teen haar nek gedruk en aangedring op geld.

Die vrou het toe aan die man gesê sy het net R150 by haar, wat sy toe aan hom oorhandig het.

Diew man het die vrou – met die gebreekte bottelnek steeds teen haar nek – vir nog geld deurgesoek.

Volgens Jacobs het die man die vrou oor ’n straat gedwing en haar beveel om te lê.

Hy het sy hande op haar gesig gedruk en haar na bewering verkrag. Sy sê die vrou het gepleit vir haar lewe.

Jacobs sê nadat die man klaar was met die vieslike daad het hy af in Buitekantstraat in die rigting van Riverview gestap. Die vrou het die voorval onmiddellik by die polisie aangemeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article