’n Vrou wat op 1 Mei ’n vals aanklag van verkragting teen haar vriend aanhangig gemaak het, is verlede week gevonnis. Die vrou het beweer die vriend het haar verkrag, maar later toe hy in die hof moes voorkom, het sy die hof in kennis gestel dat sy die aanklag wil laat vaar.

“Toe sy deur die hof gevra is hoekom sy die aanklag wil laat vaar, het sy gesê sy het daaroor gelieg. Sy het glo oor die verkragting gelieg omdat haar vriend haar betrap het terwyl sy hom met iemand anders verneuk het,” het AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, vroeër aan Standard gesê.

Die staatsaanklaer het summier daarop aangedring dat ’n saak van regsverydeling teen die vrou aanhangig gemaak word omdat sy oor so ’n ernstige misdaad gelieg het. Sy is ook van meineed aangekla omdat die man reeds in hegtenis geneem is en in die hof sou verskyn.

Jacobs het gesê mense moet twee keer dink voordat hulle vals klagtes teen mense aanmeld. “Wanneer jy ’n klagte aanmeld, maak seker jou verklaring is die waarheid, want om ’n vals verklaring af te lê, is ’n strafregtelike oortreding. As die polisie ontdek jy het ’n vals verklaring onder eed afgelê, sal ’n klagte van meineed teen jou ondersoek word en jy sal in hegtenis geneem en aangekla word.”

Die vrou is tot twee jaar tronkstraf gevonnis, wat vir twee jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie binne die volgende twee jaar aan ’n soortgelyke oortreding skuldig bevind word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article