Vivian Jakobs van die Du Toit-groep se Crispy Farming in die Witzenberg het die afgelope naweek weggestap as wenner van die 2023 Wes-Kaapse Prestige Agri-prysuitdeling.
Die galaseremonie van die Wes-Kaapse departement van landbou se jaarlikse Wes-Kaapse Prestige Agri-prysuitdeling (WCPAA) is Saterdag (4 November) by die Protea-hotel Marriot Techno Park, Stellenbosch, gehou.
Hierdie jaarlikse departementele geleentheid is in samewerking met Shoprite as hoofborg en het gee erkenning aan die waardevolle bydrae wat landbouwerkers tot die volhoubaarheid en groei van die landbousektor in die Wes-Kaap lewer. Die gasheer van die WCPAA bied ’n geleentheid om die landbouwerkers, wat tydens die Covid-19-pandemie as “noodsaaklike werkers” geklassifiseer is, te vereer en te vier en sodoende hul belangrikheid en betekenis in die landbousektor en sy groei te beklemtoon.
Agri-werkers het in elf verskillende afdelings op streekvlak, in 15 verskillende streke, teen mekaar meegeding.
Altesaam 1 067 landbouwerkers het in die 2023-’24-kompetisie deelgeneem.
Die streekwenners van elke afdeling het na die provinsiale vlak deurgedring, waar hulle meegeding het om die provinsiale kategorie-toekenning te wen, asook die gesogte titel van die algehele wenner, naamlik die Wes-Kaap- Prestige Agri-werker van die Jaar 2023.
Die streekwenners was Lekgotla Mabombo (Bergrivier); Bernard Louw (Breedevallei); Tashwill Toto (Sentraal Karoo); Lance du Toit (Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp); Simon Zeeman (Franschhoek); Ntombifuthi Mphetshwa (Tuinroete); Thomas Oosthuizen (Klein Karoo); Mabonele Molefi (Hexvallei); Jacobus Fredericks (Langeberg); Hermiena Hendricks (Piket-Bo-Berg); Priscilla Hektor (Olifantsrivier); Dirk Joubert (Overberg); Ronald Jordaan (Stellenbosch); Marlon Coert (Swartland) en Vivian Jakobs (Witzenberg).
Stephen Satira van die Breedevallei-streek is erken as die landbouwerker wat die beste potensiaal in vanjaar se kompetisie getoon het.
Die Franschhoek-streek is vir vanjaar se kompetisie aangewys as die streek wat die beste presteer.
Dr. Ivan Meyer het gesê: “As provinsiale minister van landbou is ek baie trots op die gehalte van ons landbouwerkers wat vir ons kompetisie inskryf.
“Ek beskou hierdie kompetisie as belangrik omdat dit behoorlike erkenning bied aan die hardwerkende landbouwerkers wat hierdie sektor se groei ondersteun.
“En dus is ’n belegging in landbouwerkers ’n belegging in die toekoms van boerdery.”
Vivian Jakobs het gesê: “Hierdie kompetisie was vir my ’n uitstaande reis. Vir al die boere, landbouwerkers en verteenwoordigers van die verskillende streke, ons is een.
“Ons hoofdoel is om te verseker dat die man op straat die beste produkte moontlik op sy tafel kry. Ons moet verseker dat daar vandag, môre en die dae daarna kos is.
“Laat ons alles inspan om dit te verseker.”
Pieter van Zyl, hoofbestuurder van verkryging by Shoprite Freshmark, het gesê: “Shoprite is trots om met hierdie kompetisie geassosieer te word – dit is een wat die positiewe stories in die landbou uitlig.”
?





